Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tweepot-aftrede-onttrekkings oorskry 21-miljard-rand in minder as twee maande
# Ramokgopa sê die ekonomie kan weens ononderbroke kragtoevoer met 3,5-persent groei
# En, rugby: Die Leeus verbeter tot derde op die VRK-punteleer na ‘n indrukwekkende begin die seisoen
# Meer as 21-miljard-rand is in net minder as twee maande onttrek ingevolge die tweepot-aftreestelsel. Meer as ‘n miljoen mense het van hulle aftree-spaargeld onttrek, wat ingevolge die hervorming van die stelsel toelaat dat pensioenfondse verdeel kan word in gevestigde spaargeld en aftreepotte. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens berig meer as 1,1-miljoen belastingaanwysings is goedgekeur, hoewel baie aansoeke afgewys is weens foute. Belastingkoerse op onttrekkings wissel van 18- tot 45-persent.
# Die minister van Energie en Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê ononderbroke kragtoevoer kan die Suid-Afrikaanse ekonomie in die volgende 18- tot 24-maande met 3,5-persent laat groei. Hy sê die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die Universiteit Stellenbosch het dit bevestig. Ramokgopa sê die afgelope drie jaar het ‘n gesamentlike strategie deur die Presidensie en die Nasionale Tesourie, Operasie Vulindlela, strukturele en ekonomiese hervormings versnel om groei te bevorder:
# Die DA in Johannesburg sê die tekort aan gesondheid-inspekteurs in die metro weens begrotingsbesnoeiings stel die lewens van Gautengse leerders in gevaar. Nazley Sharif van die DA sê die party het hierop afgekom tydens beraadslagings met die stad se streeksdirekteur, Justice Ngalonkulu, na ‘n voorval in Soweto waar laerskoolleerders snoeperye gekoop het van ‘n spaza-winkel wat hulle na bewering vergiftig het. Sy sê die bedryfsbegroting vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling was twaalf jaar gelede 100-miljoen-rand, maar dit is verlaag tot 49-miljoen-rand:
# ‘n Twee-en-twintigjarige man van Johannesburg is uitgeken as ‘n lid van ‘n elite skerpskuttereenheid in die Israelse Weermag. Volgens News24 dui ‘n dokumentêr deur die Palestynse joernalis Younis Tirawi aan dat Aaron Bayhack na bewering betrokke was by die eenheid se operasies in Gaza waarin volgens berigte meer as 100 mense dood is, wat burgerlikes insluit. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het kommer uitgespreek oor burgers wat in die konflik veg en noem moontlike skendings van internasionale wette.
# Rugby: Die Leeus het van die sesde tot die derde plek opgeskuif op die punteleer van die Verenigde Rugbykampioenskap met hulle derde oorwinning van die seisoen gister in Wallis. Die Johannesburgse span het die Dragons op Rodney Parade 23-19 geklop en is nou net agter Leinster en Glasgow Warriors wat albei een wedstryd meer gespeel het. Die Bulle het tot die vierde plek verbeter nadat hulle Ospreys geklop het terwyl die Haaie tans in die 14de plek is en die Stormers 16de nadat hulle die naweek weer verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-485-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-661-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….