Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Johannesburgse man word verbind met ‘n elite Israelse skerpskutter-eenheid in Gaza
# ‘n Vermeende dwelmsmokkelaar van Suid-Afrika word in Ethiopië aangekeer
# En, krieket: Mahela Jayawardene keer terug as hoofafrigter van Mumbai Indians
# ‘n Twee-en-twintigjarige man van Johannesburg is uitgeken as ‘n lid van ‘n elite skerpskuttereenheid in die Israelse Weermag. Volgens News24 dui ‘n dokumentêr deur die Palestynse joernalis Younis Tirawi aan dat Aaron Bayhack na bewering betrokke was by die eenheid se operasies in Gaza waarin volgens berigte meer as 100 mense dood is, wat burgerlikes insluit. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het kommer uitgespreek oor burgers wat in die konflik veg en noem moontlike skendings van internasionale wette.
# ‘n Vermeende dwelmsmokkelaar van Suid-Afrika is in Ethiopië in hegtenis geneem met kokaïen van meer as 5,4-miljoen-rand. Die 29-jarige vrou is aangekeer na samewerking tussen die polisie se Gautengse teendwelm-intelligensie-eenheid, en die Ethiopiese Federale Polisie in die hoofstad, Addis Abeba. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die vrou is uitgewys deur SAPD Interpol met die vermoede dat sy op reis was na Brasilië om dwelms op te tel en terug te vlieg na Suid-Afrika deur verskeie ander lande:
# Die minister van Energie en Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê die bestendigheid in Eskom se leierskap dra by tot die verlengde opskorting van beurtkrag. Hy het vandag die jongste inligting gedeel oor die instelling van die Energie-aksieplan, terwyl Suid-Afrika ononderbroke kragvoorsiening vir meer as 200 dae volgehou het. Ramokgopa sê Eskom het ook daarin geslaag om kritieke vakante poste te vul:
# Krieket: Sri Lanka se legendariese kolwer, Mahela Jayawardene, is heraangestel as hoofafrigter van Mumbai Indians nadat hy van 2017 tot ’22 die posisie beklee het. Hy vervang die voormalige Suid-Afrikaanse paaltjiewagter, Mark Boucher, wat twee jaar lank hoofafrigter was van die vyfmalige Indiese Premierliga-kampioen. Onder Boucher het Mumbai verlede jaar deurgedring na die uitspeelronde, maar vanjaar onderaan die punteleer geëindig met net vier oorwinnings in 14 wedstryde. Jayawardene sê hy sien uit na die opwindende uitdaging.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-611-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-659-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: Universal en DreamWorks Animation se fliek The Wild Robot, is bo-aan die internasionale loket, en het tot dusver meer as twee-miljard-rand laat inrol. Die rolprent is gegrond op die kinderboeke van Peter Brown en die ster-stemkunstenaars sluit in Lupita Nyong’o, Pedro Pascal, Kit Connor en Bill Nighy. Ander flieks wat tans die internasionale loket oorheers is Warner Brothers se Joker: Folie á Deux, met Joaquin Phoenix en Lady Gaga, Marvel/Disney se Deadpool & Wolverine, en Beetlejuice Beetlejuice.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….