Nuus 07:00
BULLETIN 14 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank sê Mboweni het ‘n groot rol in Suid-Afrika se ekonomiese transformasie gespeel
# Die Valke klassifiseer polisiemoorde as ‘n nasionale prioriteitsmisdaad
# En Amerika gaan ‘n teen-missielstelsel na Israel stuur
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank sê die gewese minister van Finansies, Tito Mboweni, het ‘n betekenisvolle rol gespeel in ekonomiese hervorming en maatskaplike verandering. Die 65-jarige Mboweni is na ʼn kort siekbed in die hospitaal dood. Hy was van 1999 tot 2009 president van die Reserwebank. Die bank sê Mboweni het Suid-Afrika deur moeilike tye van groot onsekerheid met ʼn ferm hand op die ekonomie gelei. Dit sluit die wêreldwye finansiële krisis van 2008 in as die Reserwebank-president, en later tydens die Covid-19-pandemie as minister van Finansies.
Intussen sê die Parlement se voorsittende beamptes, die Nasionale Vergadering se speaker, Thoko Didiza, en die Nasionale Raad van Provinsies se voorsitter, Refilwe Mtshweni-Tsipane, Mboweni was ʼn geëerde en veelsydige dienaar van die mense. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, sê Mboweni, Suid-Afrika se eerste swart president van die Reserwebank, het sy lewe, passie en wye kennis gebruik om Suid-Afrika se mense te dien:
# Die Valke-hoof, Godfrey Lebeya, sê ʼn aanval op polisielede is ʼn aanval op die samelewing en die staat. In die tweede kwartaal van die 2024/2025-boekjaar is 17 polisiebeamptes vermoor. Minstens 13 was tydens die moord van diens af, terwyl vier aan diens was tydens die voorvalle. Die moorde sluit in dié van konstabel Asanda Siyoko van die Nyanga-polisiekantoor in Kaapstad wat op diens was tydens die moord. Lebeya sê hulle het polisiemoorde as nasionale prioriteitsmisdaad geklassifiseer.
# Die LUR vir Onderwys in Gauteng Matome Chiloane betreur die dood van ‘n graad 1-seun van die Karabo Primary School in Naledi, Soweto, wat in die waakeenheid herstel het na die tragiese vermeende voedselvergiftiging wat die lewens van vyf leerders van drie verskillende skole geëis het. Die woordvoerder van die departement, Steve Mabona sê die leerder het Sondag by ‘n plaaslike mediese gerief gesterf. Hy sê die vyf ander leerders is gister ter ruste gelê:
# Amerika sê hy gaan ʼn gevorderde missielafweerstelsel na Israel stuur om dié land se lug-verdediging te versterk. Dit volg na Iran se ongekende aanvalle op Israel op 13 April en een Oktober vanjaar. Amerikaanse weermagpersoneel sal ontplooi word om die verdedigingstelsel te gebruik. Die Departement van Verdediging sê hierdie optrede beklemtoon Amerika se vasberadenheid om Israel en Amerikaanse burgers in Israel te verdedig teen enige verdere ballistiese-missielaanvalle deur Iran.
# Tennis: Die wêreld se nommer een, Jannik Sinner, het die Sjanghai Meesters gewen. Hy is die eerste man om meer as ses titels in een kalenderjaar te buit sedert Andy Murray in 2016 nege opgeraap het. Die 23-jarige Italianer het die Serwiër, Novak Djokovic geklop om die jongste kampioen in die Sjanghai-toernooi se geskiedenis te word. Djokovic het probeer om die derde manspeler te word wat 100 toervlak-titels wen. Sinner, wat sy afgelope drie wedstryde teen Djokovic gewen het, sê daar is geen geheim nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-604-dollar-07-sent. Die prys van goud is twee-duisend-646-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….