Nuus 13:00
BULLETIN 12 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vyftien slagoffers van Lusikisiki-massamoord ter ruste gelê
# Die ACDP verwerp ‘n minister se voorstel dat verbruikers spazawinkels se registrasies moet verifieer
# En, rugby: Die Bulle maak vier veranderings vir die VRK-wedstryd teen Ospreys in Swansea
# Vyftien slagoffers van die tragiese Lusikisiki massamoord in die Oos-Kaap is vandag ter ruste gelê. Agtien mense is dood toe aanvallers losgebrand het op ‘n familie wat besig was om vir ‘n geleentheid voor te berei. Vroeër vandag is die oorskot van 15 slagoffers teruggeneem na die misdaadtoneel vir ‘n roerende Xhosa-ritueel om hulle geeste te vereer. Die opregte plegtigheid is daarop gemik om hulle geeste te gaan haal en afsluiting te bring vir die families in rou.
# Die president van die ACDP, Kenneth Meshoe, verwerp die voorstel van die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, dat verbruikers die registrasie van spazawinkels moet verifieer. Hy sê die regering moet standaarde vir gesondheid en veiligheid verseker, nie die publiek nie. Meshoe waarsku Ntshavheni se opmerkings kan tot onnodige konflik aanleiding gee en versoek staatsdepartemente om behoorlike inspeksies uit te voer en regulasies toe te pas:
# Eskom sê sy onbeplande kapasiteitsverlies staan steeds op 25,4-persent vir die huidige boekjaar, wat ‘n verbetering is vanaf 34,03-persent in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Die woordvoerder Daphne Mokwena sê tussen 1 April en 10 Oktober het die kragnutsmaatskappy 12,03-miljard-rand se dieselbesparing aangeteken, minder as die 18,03-miljard-rand wat verlede jaar oor dieselfde tydperk bestee is. Sy sê Eskom se strategiese gebruik van spitstydstasies, waaronder pompstasies en oopsiklusgasturbines, is steeds die sleutel tot die bestuur van elektrisiteitsaanvraag tydens spitstye, veral in die aande:
# Die polisie het 40 nuwe aantygings teen wyle Mohamed al Fayed ontvang, insluitend bewerings van verkragting en seksuele aanranding tussen 1979 en 2013. Bewerings teen die voormalige miljardêr-eienaar van Harrods het op die lappe gekom na ‘n BBC-ondersoek en dokumentêr. Die Metropolitaanse Polisie sê die nuwe eise is bykomend tot bewerings deur 21 ander vroue wat voor die BBC-uitsending by die mag aangeklop het. Die polisie vra enigiemand met bewerings teen Fayed om na vore te kom. Die Justice for Harrods Survivors-groep beplan regstappe teen die luukse afdelingswinkel.
# En, rugby: Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, het ‘n paar verskuiwings aan sy pak voorspelers gemaak, terwyl die agterlyn onveranderd bly vir vanaand se Verenigde Rugbykampioenskaps-ontmoeting met Ospreys op hulle eerste toerwedstryd. Die Springbok Elrigh Louw skuif van nommer sewe na nommer agt en Cameron Hanekom skuif na die bank toe. Reinhardt Ludwig en Marcell Coetzee is die flanke. Die Bok Marco van Staden kry ‘n welverdiende ruskans. Ruan Vermaak vervang vir Cobus Wiese, wat ook bank toe skuif. Afskop is vanaand om 8.35.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….