Nuus 11:00
BULLETIN 12 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie verskerp sy misdaadbekampingspogings voor die feesseisoen
# Sewe mense dood en 9 beseer in ‘n botsing op die N2 in die Oos-Kaap
# En, krieket: T20-Wêreldbeker-halfeindplek vandag op die spel vir Protea-vroue teen Bangladesj
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het verskerpte misdaadbekampingstrategieë vir die feestyd aangekondig. Masemola het tydens die bekendstelling van die ‘Operasies vir ‘n Nasionale Veiliger Feestyd’ in Tshwane gepraat en beklemtoon daar sal verhoogde polisiesigbaarheid wees om ernstige misdade te bekamp. Hy het gesê die polisie sal fokus op prioriteitsmisdade, insluitend grensveiligheid asook geslagsgeweld en vrouemoord:
# Sewe mense is vanoggend dood en nege ernstig beseer toe ‘n vragmotor en twee Toyota Quantum’s reg-van-voor gebots het op die N2 tussen Mthatha en Mtentu in die Oos-Kaap. Die woordvoerder van die provinsiale Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid, Makhaya Komisa, sê die ongeluk het in digte misweer gebeur. Hy sê die bestuurder van die vragmotor het op die vlug geslaan en die polisie en wetstoepassers is warm op sy spoor:
# Die vakbondfederasie Saftu se hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi, sluit vandag aan by ‘n betoging ter ondersteuning van Palestyne wat in Potchefstroom, Noordwes, plaasvind. Saftu sê die optrede gedenk ‘n jaar van voortgesette etniese suiwering en volksmoord teen die Palestynse volk. Woordvoerder Mogoshadi Maserumule sê hulle is sterk gekant teen alle vorms van onderdrukking, en het solidariteit beloof met die Palestyne se stryd teen apartheid en besetting:
# Krieket: ‘n Plek in die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi is vanaand op die spel vir die Protea-vroue wanneer hulle Bangladesh in Dubai pak in hulle laaste Groep B-wedstryd. Suid-Afrika is tans tweede in die groep na die Windies en voor Engeland, wat een wedstryd minder gespeel het. Bangladesh is vierde. Die voorste twee spanne in elk van die twee groepe dring deur na die voorlaaste ronde, wat Donderdag en Vrydag beslis word. Die eindstryd is volgende Sondag. Die Proteas se wedstryd teen Bangladesh begin om vanaand om sesuur in die Dubai Internasionale stadion.
# En ten slotte: Pous Franciskus het die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky gister by die Vatikaan ontmoet, hulle tweede persoonlike ontmoeting in vier maande. Die twee, wat in Junie tydens die G7-beraad in Suid-Italië ontmoet het, het 35 minute lank samesprekings gevoer by die apostelpaleis in die Vatikaan. ‘n Verklaring deur die Vatikaan het geen besonderhede verskaf nie, maar gesê die opvolgvergadering tussen die Oekraïnse leier en die hoofdiplomaat van die Vatikaan het gehandel oor die stand van die oorlog en hoe dit beëindig kan word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….