Nuus 08:00
BULLETIN 12 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA versoek ‘n hersiening van die Phala Phala-skandaal na geen vervolgings
# Adjunkminister Hlengwa veroordeel roekelose bestuur na die tragiese N2-ongeluk
# En, rugby: Die Springbok-vroue wil op ‘n hoogtepunt teen Italië eindig
# Die DA beplan om ‘n hersiening aan te vra by die direkteur van Openbare Vervolging, in Limpopo, Ivy Thenga, na die besluit om niemand in die Phala Phala-skandaal te vervolg nie. Die DA se woordvoerder oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Glynnis Breytenbach, sê die party kritiseer die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke se ondersoek en meen daar is ‘n gebrek aan deursigtigheid. Sy sê die DA sal aan die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, skryf en aandring op ‘n hersiening en ‘n verduideliking voor die Parlement se Justisiekomitee.
# Die adjunkminister van Vervoer, Mkhuleko Hlengwa, veroordeel roekelose bestuur na die tragiese dood van sewe leerders en hul bestuurder in ‘n ongeluk op die N2 naby Mandeni in KwaZulu-Natal. Die leerders was op pad skool toe, toe hulle voertuig met ‘n vragmotor gebots het. Die vragmotorbestuurder is ook dood. Die minister vra vir waaksaamheid op die pad en het meegevoel met die bedroefde families betuig:
# Die korrupsiesaak teen die gewese uitvoerende bestuurders van Transnet, Brian Molefe, Anoj Singh en andere, is in die Hooggeregshof in Johannesburg uitgestel tot 31 Januarie volgende jaar om meer besonderhede te bekom. Dit hou verband met ‘n tender van 54-miljard-rand in 2012. Henry Mamothame van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie sê die aanklagte handel ook oor ongerymdhede in die kontrak se verlenging van 30-miljard-rand:
# ‘n Rekordgetal brande in Peru het verwoesting in die land se ekosisteme gesaai met veldgras, droë woude, kusgebiede en die Amasone wat afgebrand het. In die noorde van Peru het seldsame brilbere uit die brandende, droë woude na nabygeleë dorpe gevlug, terwyl jaguars in die suidelike Amasone, wat nie kon wegkom nie, in bome verkool het. Omgewingskenners sê afgesien van laer reënval en hoër temperature, het gebrekkige reaksie deur die regering en brandstigting tot wydverspreide vernietiging gelei. Rekordbrande is regoor Suid-Amerika aangeteken, met Bolivia, Brasilië, Argentinië en Paraguay wat die ergste geraak is.
# En, rugby: Die Springbok-vroue wil op ‘n hoogtepunt eindig in hulle laaste Vroue 15-wedstryd teen Italië wat vanmiddag op die Athlone-stadion in Kaapstad beslis word. Die twee spanne het nog net twee keer tevore ontmoet. Die vorige botsing was net minder as ‘n jaar gelede met die Italianers wat met 36-18 gewen het. Die hulp-afrigter, Franzel September beklemtoon dis belangrik om opwaartse momentum te behou en op beter uitvoering te fokus:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….