Nuus 07:00
BULLETIN 12 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC stel Obed Bapela vry van sy pligte as adjunkvoorsitter
# Eskom se opwekkingsoperasionele-herstelplan lewer steeds voortgesette strukturele verbeterings
# En, Tennis: Sabalenka en Gauff pak mekaar in halfeindstryd in Wuhan
# Die ANC sê hy het Obed Bapela vrygestel van sy pligte as adjunkvoorsitter, en as ‘n lid van die party se nasionale uitvoerende sub-komitee oor Internasionale Betrekkinge. Dit het gebeur nadat Bapela Maandag met Marokko se minister van Buiterlandse Sake vergader het oor die versterking van ekonomiese en handelsverhoudings tussen Suid-Afrika en Marokko. Die woordvoerder van die ANC Mahlengi Bhengu-Motsiri sê dit weerspreek die party se lankvolgehoue beleid en beginsels oor Marokko se besetting van Wes-Sahara:
# Oudpresident en leier van die MK-party, Jacob Zuma, beweer wydverspreide korrupsie kom voor tydens partye se verkiesingskonferensies, en dat geld ‘n sleutelrol speel in die bepaling van leierskap. Hy glo konferensies het ‘n sakegeleentheid geword in plaas van die verkiesing van leiers. Zuma het op ‘n nuuskonferensie die gebruik van geld gekritiseer om leierskapsposisies te verseker en sê dit ondermyn die integriteit van verkiesings en ware demokratiese prosesse:
# Eskom sê sy opwekkingsoperasionele-herstelplan lewer steeds voortgesette strukturele verbeterings en doeltreffendheid aan die steenkoolvloot. Die kragverskaffer het beurtkrag nou op 198 agtereenvolgende dae vermy en gesorg vir ononderbroke kragvoorsiening sedert Maart vanjaar. Die woordvoerder van Eskom, Daphne Mokwena, sê die nutsmaatskappy sal Sondag 200 dae sonder beurtkrag vier, oor ‘n tydperk wat ‘n beurtkragvrye winter tussen April en Augustus vanjaar insluit:
# Oekraïne sê hy ondersoek die dood van ‘n Oekraïnse joernalis in Russiese gevangenskap, wie se eerstehandse verslae vroeg ná Moskou se inval die lewe onder Russiese besetting beskryf het. Die 27-jarige Viktoria Roshchyna het in Augustus 2023 verdwyn toe sy na die besette oostelike Oekraïne gereis het om verslag te doen. Rusland het verlede April erken sy word aangehou. Verslaggewers Sonder Grense sê Roshchyna se familie het ‘n brief van die Russiese ministerie van Verdediging ontvang waarin hulle meegedeel is dat sy op 19 September dood is.
# En, Tennis: Vanjaar se Amerikaanse Ope-kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, speel vandag teen die wenner die vorige jaar, die Amerikaner Coco Gauff, in die halfeindstryd van die Wuhan Ope in China. Topgekeurde Sabalenka het maklik in die kwarteindronde klaargespeel met Magdalena Fręch van Pole met 6-2, 6-2. Gauff het vroeër nog ’n Poolse speler, Magda Linette, in skoon stelle getroef. Indien Sabalenka die toernooi wen sal dit haar kans verstewig om voor die einde van die jaar die eerste plek op die wêreldranglys by Iga Swiatek van Pole oor te neem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….