Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse akteur en stemkunstenaar, Unathi Faku, is benoem as die beste akteur in ‘n ondersteuningsrol vir The Queenstown Kings op die Afrika Rolprentakademie-toekennings. Die toekennings gee erkenning aan uitnemendheid onder professionele mense wat op die vasteland werk, of beroepslui wat nie van Afrika is nie, maar tot Afrika se rolprentbedryf bydra. Dit is Faku se eerste benoeming as ‘n akteur. Uche Okocha van Nigerië se rolprent, The Weekend, is die voorloper met 16 benoemings gevolg deur Jagun Jagun met sewe. Die toekenningseremonie word op 2 November in Lagos, Nigerië gehou.
# Navorsers van die Universiteit van Pretoria het in samewerking met die WNNR kaarte met behulp van satellietfoto’s vir kleinboere in Gauteng saamgestel. Die kaarte dui mielielande en onkruid aan, wat boere in staat stel om die onkruid uit te roei. Die foto’s is deur die Copernicus Sentinel-2-satelliet geneem. Professor Abel Ramoelo van die universiteit sê boere bespaar nie net tyd en geld in die bestuur van onkruid nie, maar die omgewingsuitwerking word ook verminder met minder gebruik van skadelike onkruiddoders.
# Die wêreld se grootste kollege-vereniging, Golden Key International Honour Society, het 59 oudstudente by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie verwelkom. Die TUT Golden Key-tak is in 2021 gestig en is een van 21 aktiewe takke in Suid-Afrika. Die vereniging het in Maart vanjaar aan TUT ‘n spesiale toekenning gegee vir die uitnemende uitvoering van sy globale visie. Suider-Afrika se Golden Key-direkteur, Gillian Cloete, sê die organisasie sal die nuwe alumni voorsien van hulpbronne, ondersteuning en geleenthede terwyl hulle deur universiteit en na hulle loopbane vorder.
# Die bibliotekaris van die Universiteit van Fort Hare, Sibongiseni Mrwashu, het die gesogte Bibliotekaris van die Jaar-toekenning van die Biblioteekinligtingsvereniging van Suid-Afrika gewen. Die toekenning is uit erkenning vir die prestasies van uitsonderlike openbare, akademiese, skool- en spesiale bibliotekarisse. Mrwashu sê dit is betekenisvol dat sy die eerste ontvanger van die toekenning uit die Oos-Kaap is, en voeg by dit beklemtoon die invloed van gesamentlike pogings vir die bevordering van die rol van biblioteke in onderwys en gemeenskapsbemagtiging.
# En ten slotte: Taylor Swift het byna 88-miljoen-rand geskenk om mense te help wat deur Orkaan Milton geraak word nadat die dodelike storm die kus van Florida getref het. Die Amerikaanse megaster, met ‘n geraamde fortuin van meer as 28-miljard-rand, het die geld gegee aan die organisasie sonder winsbejag, Feeding America. Swift is volgende week in Miami met die laaste deel van haar rekordbrekende Eras-toer. Country-sangers soos Keith Urban, Luke Combs en Eric Church hou later die maand ‘n konsert in Noord-Carolina ten bate van mense wat deur die orkane Milton en Helene geraak word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….