Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-vroue se prestasie-afrigter, Swys de Bruin, het ‘n paar veranderings aan sy span aangebring vir hul laaste Vroue-15-wedstryd teen Italië wat môre op die Athlone-stadion in Kaapstad plaasvind. Jakkie Cilliers, Libbie Janse van Rensburg en Maceala Samboya is op die kantlyn weens beserings terwyl Nomawethu Mabenge en die nuweling Nombuyekezo Mdliki ingesluit is in die wedstrydgroep van 23. Nolusindiso Booi keer terug as kaptein. De Bruin sê die span berei voor vir hul einddoel, naamlik volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Engeland.
# Nou tennis: Die wêreld nommer een, Jannik Sinner van Italië, beskryf die 22-malige Grand Slam-kampioen Rafael Nadal se uittrede as hartseernuus vir die spel. Die 38-jarige Spanjaard het gister aangekondig die huidige seisoen is die laaste van sy roemryke loopbaan. Sinner sê Nadal het die jong spelers geleer hoe om hulle op die baan te gedra en nederig te bly ondanks hulle welslae. Sinner se medeginging met nog ‘n Spanjaard, Carlos Alcaraz, word beskou as die nuwe weergawe van die Groot Drie bestaande uit Nadal, Roger Federer en Novak Djokovic.
# Vervolgens, krieket: Die Wes-Indiese Eilande het Bangladesj met agt paaltjies verslaan in Sjarjah in die Verenigde Arabiese Emirate en hul hoop lewend gehou vir die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi vir vroue. Die draaibouler Karishma Ramharack het vier paaltjies platgetrek en Bangladesj is beperk tot 103 vir agt. Die Windies het die teiken in net meer as 12 boulbeurte bereik. Die oorwinning beteken hulle is met vier punte boaan Groep B en gelyk met Suid-Afrika en Engeland. Laasgenoemde het een wedstryd minder gespeel.
# Ons maak ‘n draai by motorsport: Haas en Toyota het ooreengekom op ʼn tegniese vennootskap oor die volgende paar jaar. Die Japannese vervaardiger keer ná 15 jaar terug na Formule Een. Toyota, wat sy eie werkspan het, sal deur sy Toyota Gazoo Racing-afdeling Haas se amptelike tegniese vennoot word. As deel van die ooreenkoms sal Toyota die ontwerp, tegniese en vervaardigingsdienste verskaf terwyl Haas tegniese kundigheid en handelsvoordele bydra. Toyota se Gazoo-kenteken sal volgende week op Haas se renmotors verskyn op die Amerikaanse Grand Prix in Austin, Texas.
# En ons sluit af met fietsry: Mark Cavendish se laaste beroepswedren sal die tweedaagse Tour de France Criterium op 9 en 10 November in Singapoer wees. Die 39-jarige het nog nie weer deelgeneem sedert hy die Tour de France se rekord vir skofoorwinnings in Julie verbeter het met sy 35ste sege nie. Cavendish het bevestig hy gaan nie weer aan die tydren deelneem nie nadat hy vroeër die maand by Windsor-kasteel tot ridder geslaan is, maar bygevoeg hy sal sy wedrenskedule vir 2024 afhandel. Hy het 165 wedrenne gewen sedert die begin van sy beroepsloopbaan in 2005.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….