Nuus 11:00
BULLETIN 11 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Gru-ongeluk in KwaZulu-Natal eis die lewens van agt mense
# Die African Transformation Movement kritiseer die NVG omdat hy weier om Ramaphosa te vervolg
# En, Action Society is versigtig optimisties oor die werkverrigting van die ministers in die regering van nasionale eenheid
# Agt mense, insluitend ses leerders, is vanoggend dood in ‘n ongeluk op die N2 in Mandeni, in die noorde van KwaZulu-Natal. Die bestuurder van ‘n voertuig wat leerders voervoer het, het teen ‘n vragmotor gebots en dit het van die pad geloop en omgeslaan. ‘n Negende persoon is baie ernstig beseer. Die woordvoerder van die Departement Vervoer en Menslike Nedersettings, Ndabezinhle Sibiya, sê soek-en-reddingspersoneel is op die toneel en soek na kinders wat vermoedelik vermis word:
# Die African Transformation Movement het die Nasionale Vervolgingsgesag gekritiseer omdat hy weier om enigiemand te vervolg in die Phala Phala-saak. Dit spruit voort uit ‘n strafregtelike klagte wat die voormalige hoof van die Staatsveiligheidsagentskap, Arthur Fraser, teen president Cyril Ramaphosa en die gewese hoof van die Presidensiële Beskermingseenheid, Wally Rhoode, ingedien het. Dit hou verband met die diefstal van buitelandse valuta op die president se plaas in Limpopo in 2020. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê die NVG se besluit is gebrekkig:
# Action Society bly versigtig optimisties oor die prestasie van ministers in die nuwe regering van nasionale eenheid, met 100 dae in hul ampte. Die organisasie prys die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se misdaadbekampingspogings en die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, se fokus op parool-agterstande, maar is bekommerd oor die minister van Justisie, Thembi Simelane, se VBS Bank-korrupsieskandaal. Juanita du Preez van die organisasie het die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, gekritiseer oor die beperkte optrede teen geweld teen vroue en kinders:
# Die hoof van die Europese Unie, Charles Michel, het aanvalle op die Verenigde Nasies se vredesoperasies in Libanon veroordeel en sê dit is onaanvaarbaar en onverantwoordelik. Die VN se tussentydse magte in Libanon, UNIFIL, het gister gesê twee lede van sy vredesmag is gewond toe ‘n Israelse tenkbemanning op ‘n waarnemingstoring gevuur het by sy hoofkwartier in die suidelike stad Naqoura. Die Israelse Weermag beskuldig Hizbollah dat hy in gebiede naby die UNIFIL-poste optree. Michel sê die aanvalle op sy vredesmag is ‘n ernstige oortreding van internasionale humanitêre reg.
# Motorsport: Haas en Toyota het ooreengekom op ʼn tegniese vennootskap oor die volgende paar jaar. Die Japannese vervaardiger keer ná 15 jaar terug na Formule Een. Toyota wat sy eie werkspan het, sal deur sy Toyota Gazoo Racing-afdeling Haas se amptelike tegniese vennoot word. As deel van die ooreenkoms sal Toyota die ontwerp, tegniese en vervaardigingsdienste verskaf terwyl Haas tegniese kundigheid en handelsvoordele bydra. Toyota se Gazoo-kenteken sal volgende week op Haas se renmotors verskyn op die Amerikaanse Grand Prix in Austin, Texas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-771-dollar-84-sent. Die prys van goud is twee-duisend-639-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….