Nuus 08:00
BULLETIN 11 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa herbevestig die regering se steun vir Hoofstuk 9-instellings
# Daar is nog oproepe vir minister Tau om die raad van die Nasionale Loterykommissie te ontbind
# En Israelse aanvalle eis 22 in ‘n digbevolkte Beiroet-buurt
# President Cyril Ramaphosa het die steun van die Nasionale Uitvoerende Gesag beloof vir die werk van Hoofstuk 9-instellings om hulle magte en hulle funksies sonder vrees, guns of vooroordeel uit te voer. Hy het met die leiers van Hoofstuk 9-instellings by sy amptelike woning, Mahlamba Ndlopfu in Pretoria ontmoet. Verskeie ministers was teenwoordig, insluitend die minister van Finansies, Enoch Godongwana. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê breë kwessies is bespreek, insluitend die gedeelde verantwoordelikheid om die land se demokrasie te beskerm en te versterk:
# Die United Civil Society in Action doen ‘n beroep op die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, om onmiddellik die Nasionale Loterykommissie se raad te ontbind. Die minister is onder druk om op te tree teen bewerings van korrupsie, nepotisme, konflik van belang en diskriminasie teen die kommissie se personeel. Dit sluit die proses in wat tans aan die gang is om die volgende loterylisensie toe te ken wat blykbaar minstens 80-miljard-rand oor agt jaar beloop. Die organisasie sê die raad moet verwyder word omdat hy nie sy verantwoordelikhede nagekom het nie.
# Tshwane se busdienste keer vandag terug na normaal na gister se gedeeltelike ontwrigting van sommige van sy roetes weens ‘n tekort aan bestuurders. Dit volg na 31 bestuurders van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersvakbond voor die metro se dissiplinêre komitee verskyn het. Hulle is aangekla van deelname aan ‘n onbeskermde staking in Mei. Die metro se woordvoerder, Selby Bokaba, sê die dissiplinêre verhore wat aanvanklik vir twee dae geskeduleer is, is gister afgehandel:
# Minstens 22 mense is dood en 117 beseer ná Israelse lugaanvalle Donderdagaand woongebiede in sentraal-Beiroet in Libanon getref het. Onder die slagoffers is ʼn gesin van agt wat drie kinders insluit. Die aanvalle het bewoonde geboue in twee digbevolkte buurte, Nweiri en Basta, in Bachoura getref. ’n Senior Hizbollah-amptenaar het die aanval oorleef. Israel se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Danny Danon, het aan die VN-veiligheidsraad gesê sy land se fokus is op die stryd teen Hizbollah:
# Krieket: Die Wes-Indies het Bangladesj in Sjarja in die Verenigde Arabiese Emirate met agt paaltjies verslaan en hul hoop op die T20-wêreldbeker vir vroue se halfeindronde lewend gehou. Draaibouler Karishma Ramharack het vier paaltjies platgetrek en Bangladesj is beperk tot 103 vir agt. In antwoord daarop het die Wes-Indies die teiken in net meer as 12 boulbeurte bereik. Die oorwinning beteken die Wes-Indies is met vier punte boaan Groep B en gelyk met Suid-Afrika en Engeland. Laasgenoemde het een wedstryd minder gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-584-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-645-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….