Nuus 07:00
BULLETIN 11 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag gaan nie vir Ramaphosa in die Phala Phala-saak vervolg nie
# ‘n Beplande massabetoging teen die BELA-wet word aangekondig
# En rugby: Daar is verskeie veranderinge aan die Springbok-vrouegroep vir hul Italië-kragmeting
# Die Direkteur van Openbare Vervolging in Limpopo, Mukhali Ivy Thenga, het besluit om niemand in die Phala Phala-saak te vervolg nie, aangesien daar onvoldoende bewyse bestaan. Dit volg op ‘n ondersoek na ‘n klag wat die voormalige spioenbaas Arthur Fraser teen president Cyril Ramaphosa en die voormalige hoof van die presidensiële beskermingseenheid, Wally Rhoode, ingedien het. Hulle is betrek by ‘n beweerde toesmeerdery van die diefstal van buitelandse valuta op Ramaphosa se Limpopo-plaas in 2020. Die NVG se woordvoerder, Mthunzi Mhaga, sê alle bewyse is noukeurig beoordeel:
# AfriForum sê die Afrikaanse gemeenskap organiseer ‘n dag van massa-betogings teen die BELA-wet op 5 November. Woordvoerder Kallie Kriel sê talle Afrikaanse organisasies het tydens ‘n BELA-aksieberaad in Pretoria besluit om op te ruk teen die wet se taalbeleid. Hy sê die optrede is daarop gemik om Afrikaanse skole en moedertaal-onderrig te beskerm:
# Die Gautengse Verbruikersake-kantoor het kommer uitgespreek oor die gehalte van kos wat by spazawinkels in townships verkoop word. Vyf kinders is die afgelope naweek dood nadat hulle volgens berigte lekkernye geëet het wat hulle by ‘n spazawinkel in Naledi, Soweto, gekoop het. Gister is meer as 70 matriekleerders na verskeie hospitale aan die Wes-Rand gehaas nadat hulle vermoedelik voedselvergiftiging opgedoen het. Die Gautengse Verbruikersake-kantoor sê hy gaan die Qondis’ Ishishini Lakho – Fix Your Business-veldtog verskerp wat sakeondernemings aanraai om wette en regulasies na te kom.
# Die Verenigde Nasies se onafhanklike internasionale ondersoekkommissie het bevind Israel probeer Gaza se gesondheidstelsel vernietig as deel van sy aanval op Gaza. Die kommissie se drie lede moes vermeende skendings van internasionale reg in Israel en die Palestynse gebiede ondersoek. Hy beskuldig Israel in sy verslag dat dié land se magte mediese personeel in die Gaza-strook doelbewus martel en doodmaak. Hy sê dit kom neer op oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom.
# Rugby: Die Springbok-vroue se afrigter, Swys de Bruin, het ʼn paar veranderinge aan sy span aangebring vir hul laaste Vroue-15-wedstryd teen Italië wat Saterdag op die Athlone-stadion in Kaapstad plaasvind. Jakkie Cilliers, Libbie Janse van Rensburg en Maceala Samboya is op die kantlyn weens beserings terwyl Nomawethu Mabenge en nuweling Nombuyekezo Mdliki ingesluit is by die wedstrydgroep van 23. Nolusindiso Booi keer terug as kaptein. De Bruin sê die span berei voor vir hul einddoel, naamlik volgende jaar se Wêreldbeker in Engeland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-460-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-636-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-97-sent per vat.
# En ten slotte: Ethel Kennedy, menseregte-aktivis en weduwee van Amerika se voormalige prokureur-generaal Robert F. Kennedy, is op 96-jarige leeftyd dood. Sy is verlede Donderdag na ʼn beroerte in die hospitaal opgeneem. Kennedy het die Robert F Kennedy Sentrum vir Geregtigheid en Menseregte gestig na die sluipmoord op haar man, en haar ook beywer vir menseregte en vuurwapenbeheer. Sy het in 2014 die presidensiële medalje vir vryheid van president Barack Obama ontvang. President Joe Biden beskryf Kennedy as ʼn matriarg van optimisme en morele moed en ʼn simbool van veerkragtigheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….