Nuus 06:00
BULLETIN 11 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag gaan nie vir Ramaphosa in die Phala Phala-saak vervolg nie
# ‘n Opname bevind Suid-Afrikaners is optimisties oor die regering van nasionale eenheid
# En die dodetal in die Orkaan Milton staan op 16
# Die direkteur van Openbare Vervolging in Limpopo, Mukhali Ivy Thenga, het besluit om niemand in die Phala Phala-saak te vervolg nie, aangesien daar onvoldoende bewyse bestaan. Dit volg op ‘n ondersoek na ‘n klag wat die voormalige spioenbaas Arthur Fraser teen president Cyril Ramaphosa en die voormalige hoof van die presidensiële beskermingseenheid, Wally Rhoode, ingedien het. Hulle is betrek by ‘n beweerde toesmeerdery van die diefstal van buitelandse valuta op Ramaphosa se Limpopo-plaas in 2020. Die NVG se woordvoerder, Mthunzi Mhaga, sê alle bewyse is noukeurig beoordeel:
# ‘n Ipsos-opname toon die land se inwoners is optimisties oor die regering van nasionale eenheid, wat vandag sy 100ste dag amptelik vier. Volgens die opnames glo 40-persent die land beweeg in die regte rigting, die hoogste getal sedert Mei 2020. Die opname toon verder dat 150 dae sonder beurtkrag en ‘n onlangse rentekoersverlaging, mense meer positief laat voel. Kommer oor werkloosheid, misdaad en korrupsie is egter steeds dringende kwessies.
# Die meineed-saak teen die gewese Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, is uitgestel tot 25 April volgende jaar. Sy het in die Pretoriase Landdroshof verskyn in die saak wat verband hou met bewerings dat sy onder eed gelieg het oor vergaderings met oudpresident Jacob Zuma. Dit gaan oor ‘n Konstitusionele Hof-beslissing van 2019 waarin bevind is Mkhwebane het te kwader trou opgetree en vals bewerings voorgelê in die Absa-Bankorp-hersieningsaak.
# Die DA sê Johannesburg se waterkrisis is besig om te vererger, met meer as 100-duisend inwoners in gebiede soos Crosby wat vir tot ‘n week geen water het nie. Die party het die burgemeesterskomiteelid vir Omgewings- en Infrastruktuurdienste, Jack Sekwaila, gekritiseer omdat hy ‘n mosie verwerp het wat daarop gemik is om die kwessie aan te spreek. Die DA-lid, Nicole van Dyk, sê ondanks betogings is die stad se reaksie steeds onvoldoende en beloof om aan te hou veg vir inwoners se toegang tot water:
# Minstens 16 mense is dood nadat Orkaan Milton deur Florida beweeg het, waarvan vyf in die St. Lucie-distrik gesterf het. Die orkaan het Woensdagaand naby Siesta Key as ‘n kategorie 3-storm aangeland, maar het sedertdien verswak tot ‘n kategorie 1. Sowat drie-miljoen mense is sonder krag. Swaar reënval oor die staat hou steeds die risiko van oorstromings in. Die goewerneur van Florida, Ron DeSantis, sê die storm was nie so erg soos wat met Orkaan Helene ondervind is nie:
# Tennis: Wêreld nommer een, Jannik Sinner van Italië, beskryf die 22-malige Grand Slam-kampioen Rafael Nadal se uittrede as hartseernuus vir die spel. Die 38-jarige Spanjaard het gister aangekondig die huidige seisoen is die laaste van sy roemryke loopbaan. Sinner sê Nadal het die jong spelers geleer hoe om hulle op die baan te gedra en om nederig te bly ondanks hulle welslae. Sinner se mededinging met nog ‘n Spanjaard, Carlos Alcaraz, word beskou as die nuwe weergawe van die Groot Drie bestaande uit Nadal, Roger Federer en Novak Djokovic.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-196-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-633-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….