Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA vra die Parlement vir ‘n persoonlike verduideliking van minister Simelane oor die VBS-leningskandaal
# Tennis: Rafae Nadal bevestig sy uittrede aan die einde van die seisoen
# En Old Righteous Blues gaan Suid-Afrika op volgende jaar se Oscars verteenwoordig
# Build One South Africa versoek die Parlement se Reëlskomitee om die minister van Justisie, Thembi Simelane, opdrag te gee om ‘n persoonlike verduideliking te gee van haar leningsooreenkoms met betrekking tot die VBS-korrupsieskandaal. Woordvoerder Roger Solomons beklemtoon die noodsaaklikheid van ‘n volle openbaarmaking en verwys na moontlike oortredings van sleutelwetgewing en parlementêre etiek. Hy sê dit laat vrae ontstaan oor deursigtigheid en integriteit:
# Die kabinet loof die positiewe beleggersentiment wat volg op president Cyril Ramaphosa se besoek aan Amerika en adjunkpresident Paul Mashatile se besoek aan die Verenigde Koninkryk. Albei leiers het Suid-Afrika tydens hierdie reise bevorder as ʼn voorkeur-beleggingsbestemming met Ramaphosa wat die New Yorkse Aandelebeurs toegespreek het. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die regering se fokus op ekonomiese groei en werkskepping gaan meer beleggings lok:
# Die produsent van insekgebaseerde veevoeroplossings, Maltento, brei uit na Brittanje en die Europese Unie. Die Kaapstadse maatskappy het sy produksievermoë vergroot en is drie jaar gelede gesertifiseer om na die EU uit te voer. Maltento beplan om bestanddele met ʼn hoë proteïeninhoud aan verskaffers van voer vir wilde voëls en troeteldierkosmaatskappye te verskaf. Uitvoerende hoof, Dean Smorenburg, sê dis ‘n belangrike mylpaal. Maltento gebruik larwes van swart soldaatvlieë, wat uit 45-persent proteïene en 27-persent vet bestaan en gebruik brouersgraan as voer vir sy insekte.
# Tennis: Rafael Nadal het bevestig die huidige seisoen is die laaste van sy luisterryke loopbaan. Die 38-jarige Spanjaard beplan steeds om sy land volgende maand op die Davisbeker-eindtoernooi in Málaga te verteenwoordig. Die 22-malige Grand Slam-kampioen se plek op die wêreldranglys het algaande verswak nadat beserings hom sedert die begin van verlede jaar meestal op die kantlyn gehou het. Die Koning van die Kleibaan is veral bekend om sy 14 titels op Roland Garros en hy het ook in 2008 en 2016 Olimpiese goud verower.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-122-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-616-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Rolprent-en-video-stigting het Old Righteous Blues gekies om Suid-Afrika in die kategorie, beste-internasionale-rolprent te verteenwoordig op die 97ste Oscar-toekennings. Die rolprent, geregisseer deur Muneera Sallies, vertel die verhaal van ‘n gemeenskap, verlossing en hoe om aan te beweeg ná konflik uit die verlede. Die stigting sê die keurkomitee van die Suid-Afrikaanse Akademie-toekennings het die besluit geneem ná ‘n uitgebreide beoordelingsproses. Die keurkomitee prys die rolprent se sterk storielyn en die talent van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….