Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Wêreldrugby se raad gaan volgende maand stem oor die voorstel van ‘n rooikaart van 20-minute. Die reël is getoets tydens die onlangse Rugbykampioenskap, wat Suid-Afrika gewen het, en in ander toernooie. Die beheerliggaam gaan ook ander wysigings oorweeg, soos beter beskerming vir skrumskakels, en voorstelle om die spel te versnel met beperkings van 30-sekondes op skrum- en lynstaan-ingooie. Wêreldrugby gaan ook besin of lynstane mag voortgaan as die bal skeef ingegooi word, maar teenstanders wel spring.
Die Haaie behou intussen kontinuïteit vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Benetton in die Stadio Monigo. Hoofafrigter John Plumtree het min veranderings aangebring, al drie ‘n ruiling. Loskopstut Trevor Nyakane en haker Fez Mbatha vervang vir Ntuthuko Mchunu en Dylan Richardson, terwyl Phepsi Buthelezi en Emmanuel Tshituka truie ruil. Die agterlyn is onveranderd. Die wedstryd begin Saterdagmiddag vier-uur in Treviso in die noorde van Italië.
# Vervolgens, krieket: Indië het hul grootste oorwinning nóg op ʼn T20-Wêreldbekertoernooi vir vroue behaal toe hulle Sri Lanka met 82 lopies verpletter en uitgeskakel het. Aanvangskolwer Smriti Mandhana en kaptein Harmanpreet Kaur het vyftigtalle behaal en Indië het 172 vir drie op die telbord geplaas. Dis tot dusver die toernooi se hoogste telling. Sri Lanka is daarna vir 90 uitgeboul en sluit by Skotland aan as die tweede span om uitgeskakel te word. Indië speel volgende teen die verdedigende kampioen, Australië, met ‘n plek in die halfeindronde op die spel.
# En tennis: Die einde van ‘n era breek volgende jaar op Wimbledon aan wanneer al 300 lynregters na 147 jaar met ‘n elektroniese stelsel vervang word. Die All England Club het bevestig al 18 wedstrydbane gaan toegerus word met outomatiese elektroniese lyn-uitroepe, bekend as ELC. Dit is dieselfde stelsel wat die Amerikaanse Ope in New York sedert 2020 gebruik. Daar word verwag dat Wimbledon se Hawk-Eye-stelsel waarmee spelers lynregters se beslissings uitdaag, uitfaseer sal word.
Die wêreld se voormalige nommer sewe, Richard Gasquet, het intussen aangekondig hy gaan volgende jaar ná die Franse Ope uittree. Die 38-jarige Fransman was twee keer ʼn halfeind-deelnemer op Wimbledon en een keer op die Amerikaanse Ope. Hy het in 2016 sy beste vertoning op Roland Garros gelewer toe hy die kwarteindronde gehaal het. Gasquet het in sy loopbaan van 22 jaar 16 ATP-titels opgeraap. Hy sê dit gaan wonderlik wees om voor sy tuisskare af te tree.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….