Nuus 07:00
BULLETIN 10 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as 60-persent van Suid-Afrikaanse huishoudings is voedselonseker
# Die VN waarsku die humanitêre krisis in Libanon neem toe
# En rugby: Wêreldrugby sal in November oor belangrike reëlveranderings besluit
# Altesaam 63,5-persent van Suid-Afrikaanse huishoudings is voedselonseker met 36,5-persent wat voedselseker is. Dit is volgens die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se nasionale voedsel- en voedingsekerheid-opname wat tussen 2021 en 2023 gedoen is. Die opname toon ook ernstige kommer oor vermorsing en belemmering met ‘n geraamde 12,6-miljoen ton kos wat jaarliks in die land vermors word. Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die bevindings bied insig in die huidige stand van voedsel- en voedingsekerheid:
# Die MK-party het dit verwelkom dat sy geskorste stigter, Jabulani Khumalo, se jongste hofaansoek met koste van die hand gewys is. Die Verkiesingshof het Khumalo se aansoek om te appelleer teen die uitspraak in sy aanvanklike aansoek om as partyleier verklaar te word, verwerp. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het Jacob Zuma as MK-leier aanvaar. Die party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, beskryf Khumalo se aansoek as ligsinnig.
# Die Stad Tshwane het pendelaars gewaarsku oor moontlike ontwrigtings in die Tshwane Busdiens vandag en môre, weens ‘n tekort aan bestuurders. Die woordvoerder, Selby Bokaba, sê 31 bestuurders staar dissiplinêre stappe in die gesig ná ‘n onbeskermde staking. Gevolglik sal 15 roetes vertragings ervaar of daar sal minder busse wees. Hy raai pendelaars aan om alternatiewe reisreëlings te tref:
# Die Verenigde Nasies sê die toenemende humanitêre krisis in Libanon wek kommer nadat Israelse lugaanvalle verskerp en uitgebrei het na ander dele van die land. Sedert Dinsdag is twee-duisend-83 mense dood en meer as 608-duisend-500 intern verplaas. Die voortslepende konflik het 350-duisend kinders ontwortel. Die VN sê dringende optrede is nodig om burgerlikes teen toenemende geweld te beskerm en seker te maak humanitêre en hulpwerkers kan veilig noodsaaklike ondersteuning lewer.
# Rugby: Wêreldrugby se raad gaan volgende maand stem oor die voorstel van ‘n rooikaart van 20-minute. Die reël is getoets tydens die onlangse Rugbykampioenskap, wat Suid-Afrika gewen het, en in ander toernooie. Die beheerliggaam gaan ook ander wysigings oorweeg, soos beter beskerming vir skrumskakels, en voorstelle om die spel te versnel met beperkings van 30-sekondes op skrum- en lynstaan-ingooie. Wêreldrugby gaan ook besin of lynstane mag voortgaan as die bal skeef ingegooi word, maar teenstanders wel spring.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-742-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-609-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn Troosdiens vir die stigter van die Rhema Bible Church, Ray McCauley, word vanaand gehou, met ʼn vereringsdiens aanstaande week. Die 75-jarige is Dinsdagaand tuis oorlede, omring deur sy familie. McCauley was ʼn sleutelfiguur in die demokratiese oorgang in Suid-Afrika en het wit Suid-Afrikaners tydens die verhore van die Waarheid- en Versoeningskommissie gevra om te erken hulle is gedurende die apartheidsera deur regeringspropaganda mislei. Hy word aanstaande Saterdag begrawe en dit word voorafgegaan deur twee gedenkgeleenthede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….