Nuus 06:00
BULLETIN 10 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Bolivië sluit by Suid-Afrika se saak in die Internasionale Geregshof aan
# Die ouditeur-generaal se verslag beklemtoon ‘n massiewe agterstand in howe
# En Taliep Petersen se moordenaar word op parool vrygelaat
# Bolivië het die jongste land geword wat by Suid-Afrika se saak teen Israel in die Internasionale Geregshof aansluit. Suid-Afrika het sy saak in Desember verlede jaar aanhangig gemaak en Israel daarvan beskuldig dat hy volksmoord teen die Palestyne in Gaza pleeg. Israel is beveel om dade van volksmoord te voorkom. Suid-Afrika sal die maand sy klagskrif indien, as deel van ‘n breër regspoging om Israel aanspreeklik te hou kragtens internasionale reg. Bolivië voer aan Israel se volksmoorddade duur voort en die land verontagsaam hofbevele.
# Section27, wat Blinde SA verteenwoordig, het ‘n dringende regsaansoek teen president Cyril Ramaphosa by die Konstitusionele Hof ingedien omdat hy versuim om die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg te onderteken. Die wetsontwerp is deur die Parlement goedgekeur en is noodsaaklik om toegang te verbeter tot leesmateriaal vir blindes en siggestremdes. Die president van Blinde SA, Christo de Klerk, voer aan die vertraging maak inbreuk op die regte van siggestremdes en vra ʼn hofbevel om Ramaphosa te dwing om die wetsontwerp binne tien dae te onderteken:
# Die ouditeur-generaal se verslag aan die Parlement dui aan Suid-Afrikaanse howe sit met ‘n agterstand van 37-duisend-838 sake soos op 30 Junie 2024. Sake van verkragting, moord en aanranding ervaar die grootste agterstande. Dit verteenwoordig ‘n 13-persent toename teenoor die vorige jaar. Volgens die verslag is Gauteng en die Wes-Kaap die groot bydraers. Die agterstand is ook vererger deur oortreders wat uit is op borgtog, en wat gelei het tot intimidasie van slagoffers en verdere misdade. Parlementslede dring aan op vinnige optrede om die vertragings uit die weg te ruim.
# Die pasverkose burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, onderneem om voorrang te verleen aan dienslewering en om die ekonomiese gaping in die stad aan te spreek. Moya het 122 stemme op haarself verenig teenoor haar voorganger, Cilliers Brink van die DA, wat 86 stemme getrek het. Sy onderneem om gelyke toegang tot alle dienste vir alle inwoners te verskaf, ongeag hulle sosio-ekonomiese status. Moya het tydens haar intreerede toegegee agtergeblewe gemeenskappe staan voor groot uitdagings en onderneem om infrastruktuur, behuising, veiligheid en werksgeleenthede te verbeter:
# Die man wat die geliefde musikant Taliep Petersen in 2006 doodgeskiet het, is dié week op parool vrygelaat. Petersen se weduwee, Najwa, het Waheed Hassan gehuur om haar man te vermoor tydens ‘n kamma-rooftog in hulle huis in Athlone, Kaapstad. Hy het tydens die verhoor in die Hooggeregshof in Kaapstad getuig Najwa het sy familie geld aangebied as hy Taliep sou skiet. Najwa se parool is ook vroeër goedgekeur, maar die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, het dit verwys na die department se Toesig- en Paroolhersieningsraad.
# Tennis: Die einde van ‘n era breek volgende jaar op Wimbledon aan wanneer al 300 lynregters na 147 jaar met ‘n elektroniese stelsel vervang word. Die All England Club het bevestig al 18 wedstrydbane gaan toegerus word met outomatiese elektroniese lyn-uitroepe, bekend as ELC. Dit is dieselfde stelsel wat die Amerikaanse Ope in New York sedert 2020 gebruik. Daar word verwag dat Wimbledon se Hawk-Eye-stelsel waarmee spelers lynregters se beslissings uitdaag, uitfaseer sal word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-661-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-608-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….