Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van Pretoria se koor, Tuks Camerata, is vir die Suid-Afrikaanse Musiektoekennings benoem. Dié erkenning is vir sy jongste album uJehova, in die kategorie vir die Beste Tradisionele Geloofsmusiekalbum. Die album met 13-snitte is ‘n huldeblyk aan Suid-Afrika se 30 jaar van demokrasie en die land se kulturele erfenis. Dit is Tuks Camerata se vierde erkenning deur SAMA. Die koor bestaan uit 78 voltydse studente van al die dissiplines, insluitend geneeskunde, ingenieurswese en regte.
# Die Santa-skoenboksprojek het 61-persent van sy belofteteikens gehaal nadat hy in September begin het met individuele beloftes. Die projek doen elke jaar insamelings van persoonlike geskenke met noodsaaklike items en lekkernye vir minderbevoorregte kinders in Suid-Afrika en Namibië. Meer as 1,2-miljoen kinders is die afgelope 18-jaar bereik. Die houers, wat by die behoeftes van kinders in elke ouderdomsgroep aangepas is, word gepak met items soos tandepasta, seep, opvoedkundige materiaal, klere en speelgoed.
# Die Stad Johannesburg bied 200 beurse aan vir kwalifiserende Suid-Afrikaanse jongmense om in 2025 voltyds in te skryf vir ‘n voorgraadse program. Kandidate moet in Johannesburg woon. Studierigtings sluit aktuariële wetenskap, ingenieurswese, verpleegkunde en bemarking in. Die metro sê hy wil vaardigheidsontwikkeling en opvoedkundige geleenthede bied aan werknemers en ook die groter Johannesburgse gemeenskap. Aansoeke sluit op 4 November.
# Die vise-kanselier van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, profesor Tinyiko Maluleke, moedig pas-gegradueerdes aan om alle geleenthede wat hulle kry, aan te gryp. Die instelling se lente-gradeplegtighede het gister begin met een-duisend-902 graduante insluitend 65 doktorale gegradueerdes. Maluleke sê reg van die begin van die eerste jaar tot die finale jaar, word TUT-studente geleer om doelgerig, konstant en deurlopend te werk. Hy moedig gegradueerdes aan om hulle deel te doen ten einde die wêreld te verlos van honger, armoede, ongelykheid en klimaatsverandering.
# En ten slotte: Die Oscar-wenner Will Smith is die eregas op die Saudi Film Confex, wat van vandag tot Saterdag in Saoedi-Arabië se hoofstad, Riaad, gehou word. Plaaslike en internasionale kenners woon die geleentheid by om te beraadslaag oor hoe om die Saoediese filmbedryf te bevorder en te versterk. Organiseerders sê Smith sal sy skeppende visie en nadenke oor sy loopbaan deel en ʼn nuwe toekoms in die filmbedryf inspireer. Smith se fliek Bad Boys: Ride or Die met Martin Lawrence in die hoofrol het onlangs die rolprent geword wat die meeste geld ooit in Saoedi-Arabië gemaak het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….