Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verdagte word vasgetrek in verband met die massaslagting in Lusikisiki
# Die ANC bereik ‘n ooreenkoms met ActionSA om Nasiphi Moya as Tshwane se burgemeester te verkies
# En, fietsry: Namibië stel 2024 se Desert Dash bekend
# ‘n Verdagte is in hegtenis geneem in verband met die massaslagting op Lusikisiki in die Oos-Kaap. Agtien mense, waaronder 15 vroue, is voorverlede naweek by twee huise in die Ngobozana-dorpie doodgeskiet. Die 45-jarige verdagte, wat Maandagaand vasgetrek is, sal na verwagting vandag in die plaaslike Landdroshof verskyn. Dit volg op vorige berigte dat drie verdagtes aangekeer is, maar later is verduidelik hulle was net persone van belang.
# Die ANC het besluit om ActionSA se raadslid, Nasiphi Moya, as die nuwe burgemeester van Tshwane te ondersteun nadat die DA-lid, Cilliers Brink, deur ‘n mosie van wantroue verwyder is. Die raad sal vandag sy vierde burgemeester binne drie jaar verkies. Moya is die huidige waarnemende burgemeester. Mahlengi Bhengu-Motsiri van die ANC sê Moya is die beste kandidaat om Tshwane reg te ruk:
# Die wenner of wenners van die Nobelprys vir Chemie word vandag bekend gemaak, as deel van ʼn week met gesogte toekennings. Dit volg na vroeëre erkenning aan baanbreker-bydraes in fisiologie of medisyne, en fisika. ʼn Lid van die Nobel-komitee by die Sweedse Akademie vir Wetenskappe, Ellen Moons, sê die wenners van fisika, John Hopfield en Geoffrey Hinton, het fisika-elemente ingespan om metodes te ontwikkel wat die basis vorm van hedendaagse kunsmatige intelligensie:
# Fietsry: Namibië se uitmergelende jaarlikse Dessert Dash wat vanjaar die 20ste keer plaasvind, is in Windhoek bekendgestel. Die wedren van 401 kilometer begin op 6 Desember by die Grove-winkelsentrum in die hoofstad en eindig die volgende dag buite Swakopmund aan die kus. Organiseerder Leander Borg sê meer as 900 fietsryers het reeds ingeskryf, insluitende 190 solo-jaers en 15 met e-fietse:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-181-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-612-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-43-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christenforum sê die stigter van die Rhema Bybelkerk, pastoor Ray McCauley, sal onthou word as een van die beste Christenleiers in die land. Hy is gisteraand in die ouderdom van 75 oorlede. Die president van die forum, biskop Marothi Mashashane, sê McCauley se bydraes en kundigheid op die gebied van Christenskap word wyd erken:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….