Nuus 11:00
BULLETIN 9 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra ‘n dringende en omvattende ondersoek na die Weermag
# Cosatu verwelkom die regering se voorneme om die brandstofprys te verlaag
# En president Ramaphosa bring hulde aan pastoor Ray McCauley
# Die DA sê die Departement van Verdediging en Militêre Veterane het sy hulpbronne wanbestee, wat duidelik blyk uit die 3,4-miljard-rand in ongemagtigde uitgawes en onregmatige besteding van 338-miljoen-rand. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag kort tans befondsing vir 62-persent van sy noodsaaklike verpligtinge, soos die voortgesette ontplooiing in die Demokratiese Republiek die Kongo. Die DA sê sedert 2008 is meer as 520-miljard-rand bestee aan reddingsboeie, maar die land se verdedigingsvermoë bly swak. Hy sê die Weermag het ‘n nuwe, dringende en omvattende hersiening nodig.
# Cosatu verwelkom die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, se steun vir stemme wat opgaan dat brandstofpryse gesny moet word. Die minister sê samesprekings is aan die gang tussen sy departement en die Nasionale Tesourie oor hoe om brandstofpryse te verlaag. Dit sluit in hoe om die brandstofbelasting te verlaag wat pryse by die pomp tot meer as 20-rand per liter opstoot. Matthew Parks van Cosatu sê die regering moet ‘n besliste plan saam met die sakesektor en arbeid ontwikkel by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad, Nedlac:
# Die Amerikaanse minister van Gesondheid en Humanitêre Dienste, Xavier Becerra, het ʼn openbare gesondheidsnoodtoestand in Florida afgekondig om die moontlike uitwerking van Orkaan Milton op die sektor te hanteer. Dis die tweede soortgelyke afkondiging die afgelope twee weke ná verlede maand se dodelike Orkaan Helene. Milton is tans ʼn kategorie vyf-storm. Becerra sê hulle het sowat 100 personeellede asook mediese toerusting en voorrade ontplooi om die staat te help om mediese en openbare gesondheidsbehoeftes te hanteer.
# Gholf: Die kaptein van die Europese Ryderbekerwenspan, Luke Donald, sê Sergio García oorweeg dit om weer by die DP World-toer aan te sluit sodat hy beskikbaar is vir volgende jaar se Ryderbekertoernooi. Die Spanjaard het laasjaar uit die DP World-toer bedank ná ‘n sportarbitrasiepaneel beslis het die strafmaatreëls teen diegene wat by LIV Golf aangesluit het, was gepas. García was afwesig toe Donald se Europese span die Amerikaners in Rome geklop het. Donald sê García besef wat vereis word:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-200-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-610-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-75-sent per vat.
# En, ten slotte: President Cyril Ramaphosa het sy hartseer uitgespreek oor die dood van die Rhema-Bybelkerk se stigter, pastoor Ray McCauley. Hy was 75. McCauley was ook die voormalige medevoorsitter van die Nasionale Intergeloofsraad van Suid-Afrika. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president het McCauley as ʼn merkwaardige leier beskryf:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….