Nuus 08:00
BULLETIN 9 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU veroordeel die hoë kleinhandelpryse van noodsaaklike goedere
# Tshwane gaan vandag ‘n nuwe burgemeester kies
# En die hoof van die Britse MI5 waarsku oor ‘n bedreiging van Rusland en Iran
# Die vakbondfederasie, SAFTU veroordeel kleinhandelaars ten sterkste wat die prys van noodsaaklike voedselitems hoog hou ondanks dalende insetkoste. Die Mededingingskommissie se jongste Noodsaaklike Voedselprysmoniteringsverslag onthul die insetkoste van noodsaaklike kos-items het afgeneem, maar die kleinhandelpryse bly onregverdigbaar hoog. Mogoshadi Maserumule van SAFTU sê die winsgewendheid van Suid-Afrikaanse kleinhandelaars wat hulle uit die werkersklas verkry deur lae lone en hoë kleinhandelpryse, word weerspieël in die buitensporige verdienste van kleinhandelbestuurders:
# Die Regterlike Dienskommissie het besluit om ‘n regter in die Suid-Gautengse Hooggeregshof, Edwin Mogomotsi Molahlehi, as regterpresident van die Arbeidshof en Arbeidsappèlhof aan te stel. Die kommissie het Maandag met onderhoude begin om 26 regsposisies in verskeie howe te vul. Regter Susannah Cowen is aanbeveel vir die posisie van adjunk-regterpresident van die Grondsake-hof. Die RDK sê hy het besluit om nie enige aanbevelings te maak vir die vakature in die Oos-Kaapse afdeling van die Hooggeregshof nie.
# Die Stad Tshwane kies vandag ʼn nuwe burgemeester nadat Cilliers Brink verlede maand deur ʼn mosie van wantroue verwyder is. Die ANC het 75 van die 214 setels op die raad en sal die EFF en ActionSA se stemme nodig hê om sy kandidaat, wat volgens berigte Kgosi Maepa is, as burgemeester verkies te kry. Die voorsitter van die DA se Federale Raad, Helen Zille, het die ANC ʼn ultimatum gegee om Brink weer aan te stel of onbestendigheid in die metro te verwag. ActionSA wil sy eie kandidaat, Nasiphi Moya, as burgemeester hê.
# Rusland en Iran is besig om pogings te verskerp om sluipmoorde en sabotasie in die Verenigde Koninkryk te pleeg. Dit is volgens Ken McCallum, hoof van die Britse binnelandse veiligheidsdiens, MI5. Hy sê sedert Maart 2017 het die agentskap 43 komplotte vir terreuraanvalle gefnuik, met organiseerders se planne vir massaslagting wat dikwels byna klaar beplan was. ISIS en Al-Kaïda hou ʼn hernude bedreiging vir die land in. McCallum sê jongmense word toenemend ingetrek by aanlyn ekstremisme:
# Sokker: Chelsea-voorspeler, Cole Palmer, is aangewys as Engeland se 2023/2024 mansspeler van die jaar. Die publiek het gestem en die 22-jarige Palmer was eerste, gevolg deur Jude Bellingham en Bukayo Saka, wat onderskeidelik tweede en derde was. Hy is in Augustus ook aangewys as PFA se Jong Speler van die Jaar. Palmer, wat voorheen vir Manchester City gespeel het, het in alle kompetisies 25 doele aangeteken. Hy het sy debuut vir Engeland in November gemaak en het sedertdien nege keer die senior span gehaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-339-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-617-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….