Nuus 07:00
BULLETIN 9 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die binnegevegte in die regering van nasionale eenheid is nie ernstig nie
# Solidariteit stel ‘n alternatiewe gesondheidsorgstelsel voor
# En die stigter van die Rhema Bybelkerk, pastoor Ray McCauley, is oorlede
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê vroeë tekens van binnegevegte in die regering van nasionale eenheid is nie ernstig nie en hulle is ‘n span. Die DA maak beswaar teen dele van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette en die Nasionale Gesondheidsversekering. Die twee partye stamp ook koppe oor Tshwane se burgemeesterskap. Mashatile het aan die Financial Times gesê die regering stel meganismes in om geskille op te los. Dit sluit ʼn liggaam in waar hy en die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, medevoorsitters is.
# Die Solidariteit-navorsingsinstituut stel ʼn nuwe gesondheidsorgstelsel voor om druk op die sukkelende openbare sektor te verlig en om toegang tot private sorg te verbeter. Met die debat wat voortduur oor die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering wat president Cyril Ramaphosa in Mei bekragtig het, sal Solidariteit se voorstel laer maandelikse uitgawes en beter mediese sorg bied. Woordvoerder Theuns du Buisson waarsku die NVG kan die staat bankrot maak weens swak beplanning:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, veroordeel die noodlottige skietery op ‘n adjunkhoof van die Rivoni Secondary School. Die onderwyser is by die Chris Hani-winkelsentrum geskiet toe hy ‘n vergadering bygewoon het. Die Gautengse Onderwysdepartement betuig sy medelye. Woordvoerder, Steve Mabona, sê die polisie stel ondersoek in:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê Israelse magte het die moontlike opvolger van die ontslape Hizbollah-leier, Hassan Nasrallah, doodgemaak. Hashem Safieddine is minder as twee weke gelede in ʼn aanval in Beiroet, Libanon, dood. Die Libanese gesondheidsministerie sê 36 mense is die afgelope 24 uur in Israelse aanvalle dood. Netanyahu het die mense van Libanon gewaarsku hulle staar verwoesting en lyding soos die Palestyne in Gaza in die gesig as hulle nie van Hizbollah ontslae raak nie:
# Krieket: Die Protea-kaptein, Laura Wolvaardt, sê hulle veldwerk sal moet verbeter in die T20-wêreldbeker vir vroue se Groep B-wedstryd teen Skotland wat vandag in Dubai plaasvind. Van die veldwerkfoute wat in hul sewepaaltjie-nederlaag teen Engeland gemaak is, sluit in dat vangslae laat val is. Wolvaardt sê draaiboulers se akkuraatheid en konsekwentheid moet ook verbeter. Die Proteas staan steeds ʼn kans om die halfeindronde te haal indien hulle die wedstryde teen Skotland en Bangladesj kan wen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-302-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-619-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-34-sent per vat.
# En ten slotte: Die Rhema Bybelkerk se stigter, pastoor Ray McCauley, is op 75-jarige ouderdom dood. Hy het in 2022 afgetree en die senior pastoor-posisie aan sy seun en dié se vrou, Joshua en Tara McCauley, oorhandig. Joshua sê in ʼn verklaring sy pa se nalatenskap as dienaar-leier sal lank na sy leeftyd nog ʼn uitwerking op gemeenskappe hê.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….