Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Pensioenfondsberegter is besorg oor die voortgesette toename in pensioenfondsklagtes
# Droogtegeteisterde boere in Limpopo word aangeraai om die vee wat hulle nie kan voer nie te verkoop
# En honderde-duisende mense in Floriday vlug voor Orkaan Milton
# Die Pensioenfondsberegter, Muvhango Lukhaimane, is besorg oor die toename in pensioenfondsklagtes. Die kantoor hanteer tans tot een-duisend-177 griewe wat deur werkers ingedien is. Baie mense ervaar blykbaar probleme om ingevolge die nuwe tweepot-aftreestelsel geld uit die spaargedeelte van hulle pensioenfondsbydraes te onttrek. Volgens Lukhaimane is dit ‘n groot probleem dat werkgewers nie pensioenfondsbydraes namens hulle personeel inbetaal nie:
# Boere in Limpopo wat ernstige droogtetoestande trotseer, word versoek om vee te verkoop as hulle nie kan bekostig om dit te voer nie. Die uitvoerende hoof van Agri Limpopo, Deidré Carter, het die situasie as benard beskryf, met kommersiële boere wat voer kan koop, maar opkomende boere wat sukkel. Gebiede soos Lephalale en Giyani het sedert Januarie min reën gehad en is erg geraak. Die verkoop van vee is ‘n manier om algehele verliese te vermy.
Van die een uiterste weerverskynsel na die volgende: Honderde-duisende mense in Florida, Amerika, maak gereed om hulle huise te ontruim voor die aankoms van Orkaan Milton. Staatsamptenare waarsku dit gaan moeiliker word om ‘n veilige plek te bereik namate mense uitstel. Orkaan Milton het oornag tot ʼn Kategorie 4 verswak, maar sal na verwagting later vandag weer ʼn Kategorie 5 word. Die storm sal na verwagting die land bereik aan die Golfkus van Florida. Amptenare waarsku Milton se trefkrag kan groter skade oor ʼn wyer gebied aanrig as Orkaan Helene, waarin meer as 200 mense dood is.
# Sokker: Barcelona hoop om teen die einde van die jaar terug te keer na sy legendariese Camp Nou-stadion, wat tans gemoderniseer en uitgebrei word. Die Katalaanse reuse se planne vir die bouwerk is aan die media voorgelê en woordvoerders sê die klub wil beslis einde vanjaar terug wees met ‘n aanvanklike toeskouervermoë van 62-duisend teenoor die 105-duisend wat voorsien word aan die einde van die projek. Die stadion behoort teen die Europese somer van 2026 voltooi te wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-417-dollar-9-sent. Die prys van goud is twee-duisend-642-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-61-sent per vat.
# En ten slotte: Die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die eerste sooi gespit by die sewe-tot-tien-megawatt sonkragaanleg in Atlantis. Kaapstad is die eerste metro in die land om sy eie sonkragaanleg op te rig ten einde sy energiebronne te diversifiseer en in die toekoms selfvoorsienend te wees. Hill-Lewis sê die bouwerk aan die projek van 200-miljoen-rand sal na verwagting sowat ‘n jaar neem, waarna hulle die aanleg aan ‘n nabygeleë hoofsubstasie sal koppel om krag regstreeks in die netwerk in te voer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….