Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ATM steun die regering se indiening van ‘n klagskrif by die Internasionale Geregshof teen Israel
# Fikile Mbalula sê die ANC staan steeds in onwrikbare solidariteit met Palestina
# En, rugby: Die Bok-vleuel Kurt-Lee Arendse neem sabbatsverlof by die Bulle en kies koers na die ooste
# Die African Transformation Movement sê hy onderskryf die regering se besluit om aan die einde van die maand ‘n klagskrif by die Internasionale Geregshof in te dien oor sy volksmoordsaak teen Israel. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die regering beoog om feite en bewyse te verskaf om aan te toon dat Israel volksmoord pleeg in Palestina. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê die regsoptrede is ‘n deurslaggewende stap in die strewe na geregtigheid en aanspreeklikheid:
Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê intussen die party staan steeds in onwrikbare solidariteit met Palestina. Mbalula sê dit is nou ‘n jaar sedert, waarna hy verwys as apartheid Israel se wrede aanvalle op Palestina. Mbalula het op X gesê meer as 43-duisend mense is sedert die begin van die konflik op 7 Oktober verlede jaar dood. Mbalula sê die party versoek die beëindiging van die voortslepende besetting en toenemende geweld. Volgens Mbalula sal die ANC sal voortgaan om te pleit vir ‘n regverdige oplossing geskoei op menseregte en waardigheid vir almal.
# AfriForum is vol lof vir openbare druk wat die minister van Kommunikasie, Solly Malatsi, beïnvloed het om die reëls vir swart ekonomiese bemagtiging te wysig, sodat Starlink in Suid-Afrika beskikbaar kan wees. Die burgerregtegroep het hom daarvoor beywer om regulatoriese struikelblokke te verwyder, veral ras-gebaseerde beleid. Woordvoerder Ernst van Zyl beklemtoon Starlink se vermoë om betroubare internet na landelike gebiede te bring, tot voordeel van onderwys, sakeondernemings en sekerheid, veral waar infrastruktuur ontbreek:
# Rugby: Die ster-vleuel van die Springbokke, Kurt-Lee Arendse, is op pad na die ooste. Hy word die jongste toetsspeler om by die Japanese Rugbyliga aan te sluit nadat hy ‘n kontrak gesluit het met die Sagamihara Dynaboars. Die 28-jarige neem sabbatsverlof by die Bulle. Arendse glo die harde Japanese velde asook die vinnige pas en rondgooi van die bal is nommerpas vir sy spel. Die spoedvraat wat in die Boland gebore is, het 41 keer vir die Blitsbokke gespeel voor sy Springbok-buiging in 2022. Hy het tot dusver 85 punte in 19 toetse aangeteken.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-541-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-641-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-24-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nederlandse museum het een van sy kunswerke teruggevind nadat ‘n personeellid dit per ongeluk weggegooi het. Die werk met die titel Al die goeie tye wat ons saam deurgebring het, van die Franse kunstenaar Alexandre Lavet, lyk met die eerste oogopslag soos twee ingeduikte bierblikke. Dit is egter met die hand geverf met akriel. Die kunswerk was in ‘n hysbank uitgestal, en ‘n werktuigkundige wat nie die kunswaarde daarvan besef het nie, het dit in ‘n vullishouer gegooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….