Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC staan steeds in onwrikbare solidariteit met Palestina
# ActionSA is bekommerd oor minister Mchunu vrae oor die ware koste van BBP-beskerming ontduik
# En, rugby: Jake White beplan om Canan Moodie dié seisoen toenemend op senter in te span
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party staan steeds in onwrikbare solidariteit met Palestina. Mbalula sê dit is nou een jaar sedert, waarna hy verwys as apartheid Israel se wrede aanvalle op Palestina. Mbalula het op X gesê meer as 43-duisend mense is dood sedert die begin van die konflik op 7 Oktober verlede jaar. Hy sê die party versoek die beëindiging van die voortslepende besetting en toenemende geweld. Volgens Mbalula sal die ANC voortgaan om te pleit vir ‘n regverdige oplossing geskoei op menseregte en waardigheid vir almal.
# ActionSA sê hy verwerp die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se weiering om belangrike vrae te antwoord oor die ware koste van BBP-lyfwagte en luukse voertuie wat aan ministers en hul adjunkte beskikbaar gestel word. Die polisie se totale begroting was in die 2023/’24-boekjaar net meer as 102-miljard-rand waarvan 3,7-miljard-rand aan beskermingsdienste bestee is. ‘n Woordvoerder van ActionSA, Matthew George, sê dis onaanvaarbaar dat die minister vae veiligheidsredes aanvoer waarom hy nie inligting bekendmaak nie:
Die polisie het intussen met ʼn werwingsveldtog begin om beamptes wat met ʼn goeie reputasie weg is, weer in diens te neem. Dit is daarop gemik om sy speurdertal te vergroot met meer as 200 voormalige beamptes wat reeds in die boekjaar 2023/’24 weer aangestel is. Aansoeke sluit op 21 Oktober. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê suksesvolle aansoekers sal as konstabels, sersante of adjudant-offisiere diens doen en hulp verleen met ondersoeke en saakbestuur.
# Omgewingsregte-aktiviste, insluitende die Extinction Rebellion en Green Connection, betoog vandag teen oliemaatskappye by die Afrika-olieweek in Kaapstad. Hulle voer aan oliemaatskappye buit Afrika se hulpbronne vir eie gewin uit. ‘n Woordvoerder van Green Connection, Liz McDaid, versoek Afrikaleiers om weg te beweeg van fossielbrandstowwe en te belê in hernubare energiebronne:
# Rugby: Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, beplan om die veelsydige Springbok-agterspeler Canan Moodie toenemend as senter in te span in dié seisoen se Verenigde Rugbykampioenskap- en Kampioenebeker-kompetisie. Hy was buitesenter, met David Kriel aan sy binnekant, toe die Pretoriase span Ulster Saterdag op Loftus oortuigend verslaan het met 47-21. White sê die nommer 13-trui is waarskynlik die 21-jarige se langtermyn-toekoms, en het sy veelsydigheid geloof. Hy sê dis ongelooflik vir so ‘n jong speler om op 13, 14 én 15 te kan speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-330-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-638-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….