Nuus 08:00
BULLETIN 8 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika sal teen die einde van Oktober ‘n klagskrif teen Israel indien
# Die Menseregtekommissie neem kennis van Mkhwebane se rassistiese uitlatings
# En die polisiekommissaris is vol vertroue met vordering ná die moord op ses in die Oos-Kaap
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika sal die einde van die maand sy klagskrif oor volksmoord teen Israel by die Internasionale Hof van Justisie indien. Die regering sê hy wil feite en bewyse indien dat Israel volksmoord pleeg in Palestina. Die minister het die Verenigde Nasies se adjunk-sekretaris-generaal, Amina Mohammed, gister in Pretoria ontvang. Lamola sê ‘n permanente skietstilstand is in die Midde-Ooste nodig:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sê alhoewel die regbank nie bo kritiek verhewe is nie, moet sulke kritiek binne die perke van die reg gelewer word. Die kommissie sê hy neem kennis van die gewese Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se opmerkings ná haar onsuksesvolle aansoek in die Appèlhof. Sy het gesê haar voortslepende stryd is heeltyd teen belangrike figure, hoofsaaklik van Indiese afkoms, wat haar vervolg. Die kommissie beklemtoon die beskerming van gelykheid, waardigheid en geregtigheid soos in die Grondwet vervat.
# Die Nasionale Transmissie-onderneming Suid-Afrika is amptelik van stapel gestuur, ná die uitreiking van sleutellisensies deur die Nasionale Energiereguleerder. Die Eskom-filiaal sal op die uitbreiding van die netwerk vir hernubare energieprojekte fokus. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het planne aangekondig om 122-miljard-rand oor ‘n vyf-jaar tydperk te bestee om 30-GiggaWatt hernubare energie te koppel om billike toegang en mededingende elektrisiteitsmarkte te bevorder:
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie, Masemola, sê hy is vol vertroue die polisie is besig om ‘n positiewe leidraad te volg om verdagtes te arresteer in verband met die moord op ses gemeenskapspatrolleerders in Qumbu, in die Oos-Kaap. Onbekende gewapende mans het Sondagaand op ‘n groep gemeenskaps-patrolleerders losgebrand, ses doodgeskiet en vier ander gewond. ‘n Polisiewoordvoerder, Nonkululeko Phokane, sê arrestasies word binnekort verwag:
# Tennis: Holger Rune van Denemarke het die Italianer, Matteo Berrettini, met 4-6, 6-4, 6-3 verslaan om die Sjanghai Meesters se derde ronde te haal. Die wedstryd sou verlede Saterdag plaasvind, maar is weens aanhoudende reën by die Qizhong Forest Sports City Arena uitgestel. Nog ʼn Italianer, Flavio Cobolli, het Stan Wawrinka van Switserland met 6-7, 7-6, 6-3 geklop en kom in die derde ronde teen die viermalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië te staan. Die Amerikaner Taylor Fritz en Grigor Dimitrov van Bulgarye het ook hulle tweede-ronde-wedstryde gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-650-dollar-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-642-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….