Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die adjunkpresident van die MK-party en beleërde voormalige Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe, het volgens die MK-woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, uit die Regterlike Dienskommissie onttrek. Dit volg ná ‘n beslissing van die Hooggeregshof in die Wes-Kaap dat hy weens sy ampsklag vir wangedrag nie op die kommissie kan dien nie.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die gewese burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink sê die kiesers sal in 2026 met ActionSA afreken. Hy sê die ANC sal die party nog leer ken. Daar bestaan steeds onsekerheid oor wie Cilliers sal vervang.
Tweedens skryf die koerant oor die afsterwe van die 54-jarige Iain Gordon van Leeukloof, noordoos van Pretoria. Hy het ernstige brandwonde opgedoen toe hy ‘n week gelede gehelp het met brandbestryding.
En laastens word berig die voormalige siggestremde swemkampioen, Cornelle Leach het behandeling in Duitsland ontvang wat haar sig aansienlik verbeter.
# Sowetan:
Berig vyf kinders van Naledi in Johannesburg is dood nadat hulle na bewering versnaperinge by ‘n plaaslike winkel geëet het. Die koerant skryf dit volg 12 maande nadat twee kinders in ‘n soortgelyke voorval in dieselfde gebied dood is. ‘n Sewejarige seun is in kritieke toestand in die hospitaal.
# The Star & Pretoria News:
Skryf ook oor die vyf kinders wat in Naledi dood is.
En berig dat oproepe om vrede in die Midde-Ooste uit talle oorde gedoen word.
# En The Citizen:
Skryf omdat COSATU beperk word tot lone en werkkwessies, kan hy nie breë steun mobiliseer nie. Die vakbondfederasie het volgens kenners verswak.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig Dezzi, die eggenote van die omstrede diamanthandelaar Louis Liebenberg, beweer haar man het verskeie groot bedrae aan polisie-offisiere en senior ANC-politici betaal. Onder meer aan Ace Magashule. Dit het ook aan die lig gekom dat Liebenberg na bewering sedert Julie sonder ‘n geldige diamantlisensie handel dryf.
En tweedens skryf die koerant ook oor Hlophe se bedanking uit die RDK.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Volksblad en skryf ook oor Hlophe.
# En Cape Times:
Skryf werksgeleenthede en armoede is uitgelig tydens die COSATU-optog.
En berig reusestygings in mediese-fondstariewe word vir aanstaande jaar voorspel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die families van pasiënte by die Livingstone-hospitaal soek antwoorde. Dit volg ná ‘n video van ‘n verswakte Parkinson-lyer wat op die grond moet kruip weens ‘n beweerde tekort aan rolstoele.
En tweedens skryf die koerant dit kan die einde van die pad wees vir die omstrede Gqeberha-prokureur Du-Wayne Stoltz nadat die tugkomitee van die Regspraktykraad bevind het dat hy oneerlik, selfsugtig en berekend is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf oor COSATU se betoging gister in eThekwini. ‘n Versoekskrif oor werksgeleenthede en ongelykheid is oorhandig.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Verkiesingskommissie van Namibië het die oop internasionale tenderproses vir stembriewe vir die November-verkiesing gekanselleer.
En tweedens skryf die koerant die sakevrou, Qiaoxia ‘Stina’ Wu word gedagvaar vir die beweerde wanbetaling van lenings wat glo sowat 68-miljoen-rand beloop.