Nuus 07:00
BULLETIN 8 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party beloof om te keer dat die regbank by parlementêre sake inmeng
# Vier Soweto-leerders is dood weens beweerde voedselvergiftiging
# En Orkaan Milton: Florida maak gereed vir die grootste ontruiming in sewe jaar
# Die MK-party sê hy sal voortgaan om kwessies oor skeiding van magte te ontbloot om seker te maak die regbank meng nie by parlementêre sake in nie. Dit volg nadat die party se parlementêre leier, John Hlophe, uit die Regterlike Dienskommissie bedank het. Sy bedanking volg nadat die Wes-Kaapse Hooggeregshof hom in ‘n tussentydse beslissing verbied het om in die Regterlike Dienskommissie te dien. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndlhela, het aan Newzroom Afrika gesê dis belangrik om die stelsel uit te daag:
Die DA sê intussen Hlophe se bedanking is ʼn betekenisvolle oorwinning vir regterlike onafhanklikheid. Die DA-woordvoerder, Karabo Khakhau, sê ʼn regter in ʼn staat van beskuldiging en ʼn rekord van growwe wangedrag behoort nie op die RDK te dien nie:
# Die polisie ondersoek die dood van vier leerders wat die afgelope naweek in Soweto vermoedelik aan voedselvergiftiging dood is. Drie leerders tussen sewe en nege jaar oud van Karabo Primary School is dood nadat hulle kos geëet het wat vermoedelik gif in gehad het. ʼn Vyfde leerder wat in graad een is, is in die waakeenheid. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê in ʼn ander voorval is ʼn agtjarige seun van Khauhelo Primary School ook dood nadat hy volgens berigte eetgoed by ʼn spazawinkel in Naledi gekoop het:
# Die Nasionale Gemeenskapspolisie Raadgewende Forum het sy hartseer uitgespreek oor die tragiese skietdood van lede van die gemeenskapspolisieforum in Qumbu, Oos-Kaap. Ses mense is dood en vier is in die hospitaal. Die forum se woordvoerder, Siyanda Biyela, het meegevoel aan die slagoffers se families betuig en die gemeenskap se ondersteuning gevra om wetstoepassers te help om die oortreders vinnig vas te trek. Hy het eenheid in die stryd teen misdaad bepleit.
# Orkaan Milton, wat Sondag van ʼn tropiese storm tot ʼn orkaan versterk het, sal die VSA na verwagting môre [Woensdag] bereik. Die weerstelsel sal die Tampa Bay-gebied eerste bereik en vandaar na Orlando oorbeweeg. Die noodbestuursafdeling van Florida waarsku inwoners om vir die grootste ontruiming sedert Orkaan Irma in 2017 voor te berei. Meer as 200 mense is dood toe Orkaan Helene die suidooste van Amerika, insluitend gedeeltes van Florida, verlede maand getref het. Voorspellers verwag sommige gebiede kan weer deurloop en die skade van Helene vererger.
# Krieket: Ierland het Suid-Afrika met 69 lopies verslaan in die derde en laaste eendagwedstryd in Abu Dhabi, en die Proteas wen die reeks met twee-een. Kaptein Paul Stirling het 88 aangeteken met Ierland wat 284 vir nege op die telbord geplaas het. Lizaad Williams het vier paaltjies platgetrek. In antwoord daarop het die nuweling, Jason Smith, ʼn indrukwekkende 91 van 93 balle behaal. Dit was egter nie genoeg nie en Suid-Afrika is op 215 almal uit. Die Proteas fokus nou op die toetsreeks van twee wedstryde later die maand teen Bangladesj.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-567-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-643-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….