Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die polisie se eerste vroulike hoofhelikoptervlieënier in die Vrystaat, Kgothatso Khunou, is aangewys as die oorhoofse lugvaartwenner op die Veertig-onder-40-toekennings. Woordvoerder Amanda van Wyk sê die toekennings, wat oorhandig is in Kemptonpark, vereer jong presteerders in verskeie bedrywe. Sy sê Khunou, wat ‘n handelsvliënier is, dien die SAPD sedert 2014 met die verskaffing van kritieke steun in operasies:
# Die Stigting vir Onderwys en Maatskaplike Geregtigheid Afrika sê onderwysers is onbesonge helde wat jong intellekte en toekomstige leiers vorm. Die stigting erken onderwysers se toewyding, opofferings en lewensbelangrike rol in die koestering van leerders. Die stigting se direkteur en onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, spreek sy dank uit vir onderwysers se onwrikbare verbintenis en erken hul diepe uitwerking buite die klaskamer om gemeenskappe en samelewings te vorm:
# Street Cotton-modeskou se stigter, Abdul Maimela, sê hy sal voortgaan om naaldwerkklasse te gee aan senior burgers in Mamelodi-Wes. Die 29-jarige Maimela werk saam met die Peu Entle-klub vir senior burgers om sy modeontwerp-vaardighede te deel. Hy spesialiseer in die klassieke klerestyl en sê sy belangstelling in modeontwerp het reeds op skool begin. Hy het later aan gemeenskapsprojekte gewerk deur straat-modeparades te hou. Die Peu Entle-naaldwerkprojek het in Augustus begin.
# Reusebydraes het daartoe gelei dat die Tuinroete-aasvoëlherstelsentrum in George in die Wes-Kaap sy deure vir die publiek heropen het. Dit volg ná uitgebreide opknappings- en herstelwerk na stormskade. Die sentrum se hooffokus is om aasvoëls weer in hul natuurlike omgewing vry te laat. Die stigter, Bertus Beukes, sê die publiek het ingespring nadat hulle hulp gevra het:
# En ten slotte: Die Japanse speelgoedmaker MegaHouse het ‘n miniatuur Rubik-kubus onthul, wat so klein is, ‘n haartangetjie sal dalk nodig wees om dit op te los. Elke kant van die aluminiumkubus is omtrent vyf millimeter wyd. Dit is verlede week vir voorbestellings op die vervaardiger se webblad beskikbaar gemaak, met aflewerings wat in April verwag word. Dit weeg net 0,3 gram en is omtrent een-duisendste van die grootte van die oorspronklike een. Guinness-wêreldrekords het die mikro-kubus bevestig as die wêreld se kleinste roterende raaisel-kubus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….