Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SA Sionistefederasie versoek die regering om te herbesin oor sy standpunt oor Israel
# COSATU in die Wes-Kaap versoek die regering om werkers se regte te verbeter
# En, rugby: Die All Blacks se groep vir sy jaareind-toer word aangekondig
# Die Suid-Afrikaanse Sionistefederasie versoek die regering om te herbesin oor sy standpunt oor Israel. Die voorsitter, Rowan Polovin, het Suid-Afrika gekritiseer vir sy steun aan anti-Westerse lande en terroristegroepe op die herdenking van Hamas se 7 Oktober-aanvalle op Israel. Hy versoek die regering om Israel se reg te steun om homself te verdedig en te help om gyselaars te bevry wat Hamas steeds aanhou. Polovin waarsku Suid-Afrika kan maklik aan die verkeerde kant van die geskiedenis beland:
# Cosatu in die Wes-Kaap vra op hulle Nasionale Dag van Aksie vir verbeterde regte van werkers en werkstoestande. Provinsiale sekretaris Malvern de Bruyn sê werkloosheid, besnoeiing van poste, Eskom se voorgestelde tariefverhoging van 36-persent en besuinigingsmaatreëls bedreig die gehalte van onderwys en ekonomiese bestendigheid. Hy sê die vakbondfederasie eis onmiddellike optrede teen die ekonomiese krisis in die land:
# Suid-Afrika en Botswana het hulle daartoe verbind om ekonomiese bande te versterk en handelsversperrings te verminder. Dit volg ná ‘n vergadering in Pretoria tussen die adjunkminister van Handel en Nywerheid, Zuko Godlimpi, en Botswana se minister van Handel en Nywerheid, Mmusi Kgafela. Die besprekings het gefokus op die verbetering van handel en beleggings. Hulle het ook gepraat oor hoe om handelsprosesse meer vaartbelyn te maak, en volhoubare nywerheidsontwikkeling en werkskepping te bevorder. Die lande gaan ‘n bilaterale werkgroep stig om handelsuitdagings op te los en nuwe samewerkingsgeleenthede te ondersoek.
# ‘n Swartbeer het ‘n Amerikaanse man laataand aangeval nadat sy deur ‘n glasdeur gebreek het op soek na kos. Die volwasse wyfie en haar drie welpies het by die huis in Lake City, Colorado, ingekom. Die 74-jarige man het probeer om hulle met ‘n kombuisstoel te verjaag, maar is teen ‘n muur vasgekeer en gekrap. Hy het beserings aan sy kop en lyf opgedoen voor hy en sy vrou kon ontsnap na ‘n slaapkamer. Die polisie het die bere kom uitjaag, en die man is op die toneel behandel.
# Rugby: Die skrumskakel Cam Roigard is ingesluit in Nieu-Seeland se groep van 36 spelers vir hulle jaareind-toer. Noah Hotham is daarom uitgelaat, terwyl die veterane Sam Cane, TJ Perenara en die nuweling Cortez Ratima hulle plekke behou in hoofafrigter Scott Robertson se groep. Die All Blacks se toer begin op 26 Oktober teen Japan in Yokohama voordat hulle te staan kom teen Engeland, Ierland, Frankryk en Italië. Robertson sê ‘n balans tussen ervaring en vars talent is deurslaggewend:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-98-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-657-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….