Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nog ‘n massaskietery vind in die Oos-Kaap plaas
# Ramaphosa sê die mense van die Midde-Ooste het vrede en geregtigheid nodig
# En, krieket: Die Proteas-vroue is lugtig vir Engeland voor vandag se T20-Wêreldbekerkragmeting
# Die Oos-Kaapse polisie is besig met ‘n soektog ná gisteraand se moord op ses mense in Godini naby Qumbu. Vier mense is gewond. Die slagoffers was volgens berigte lede van die gemeenskapspolisieforum. Die tragedie volg net meer as ‘n week nadat 18 mense in Lusikisiki afgemaai is. Polisiewoordvoerder Majola Nkhohli sê die motief vir die jongste voorval is nog duister:
# President Cyril Ramaphosa sê die verslegtende situasie in die Midde-Ooste wek ernstige kommer, want dit dreig om die gebied in ‘n oorlog te dompel en burgerlikes sal onvermydelik die gevolge dra. Dis vandag ʼn jaar sedert Hamas Israel op sewe Oktober verlede jaar aangeval en sowat een-duisend-200 mense vermoor en 250 gyselaar geneem het. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief Suid-Afrika bly verbind tot ʼn vreedsame oplossing om Palestina te bevry, internasionale wette na te kom en maatskaplike geregtigheid te bevorder.
Amerika het intussen meer as tien-duisend antisemitiese voorvalle aangeteken sedert Hamas se aanval ‘n jaar gelede. Dit is volgens voorlopige data van die Anti-Defamation League. Dis ʼn toename van meer as 200-persent teenoor dieselfde tydperk die vorige jaar. Minstens eenduisend-200 van hierdie antisemitiese voorvalle het op kollege-kampusse plaasgevind en nog twee-duisend by Joodse instellings. Die meeste voorvalle is in die state Kalifornië, New York, New Jersey en Florida aangemeld.
# Krieket: Die Proteas-vroue se aanvangskolwer, Tazmin Brits, sê hulle verwag vandag ‘n taai stryd teen Engeland in hulle tweede Groep B-wedstryd in die T20-Wêreldbekertoernooi in die Verenigde Arabiese Emirate. Suid-Afrika het Vrydag in hulle eerste wedstryd die Wes-Indiese Eilande met tien paaltjies geklop. Die geskiedenis van die tweestryd teen Engeland is in hulle teenstanders se guns, met 19 oorwinnings teenoor Suid-Afrika se vier. Brits sê hulle is skrikkerig vir Engeland se uitstekende boulaanval, maar is goed voorbereid:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-597-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-97-sent per vat.
# En ten slotte: Street Cotton-modeskou se stigter, Abdul Maimela, sê hy sal voortgaan om naaldwerkklasse te gee aan senior burgers in Mamelodi-Wes in Pretoria. Die 29-jarige Maimela werk saam met die Peu Entle-klub vir senior burgers om sy modeontwerp-vaardighede te deel. Hy spesialiseer in die klassieke klerestyl en sê sy belangstelling in modeontwerp het reeds op skool begin. Hy het later aan gemeenskapsprojekte gewerk deur straat-modeparades te hou. Die Peu Entle-naaldwerkprojek het in Augustus begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….