Nuus 11:00
BULLETIN 7 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die mense van die Midde-Ooste het vrede en geregtigheid nodig
# Die Operasionele en Intelligensiestruktuur hou Cosatu se landwye staking dop
# En krieket: Die Protea-vroue is versigtig vir Engeland voor hul T20 Wêreldbeker-kragmeting
# President Cyril Ramaphosa sê die verslegtende situasie in die Midde-Ooste wek ernstige kommer, want dit dreig om die gebied in ‘n oorlog te dompel en burgerlikes sal onvermydelik die gevolge dra. Dis vandag ʼn jaar sedert Hamas Israel op sewe Oktober verlede jaar aangeval en sowat een-duisend-200 mense vermoor en 250 gyselaar geneem het. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief Suid-Afrika bly verbind tot ʼn vreedsame oplossing om Palestina te bevry, internasionale wette na te kom en maatskaplike geregtigheid te bevorder.
ActionSA is intussen ontsteld oor berigte dat Ramaphosa na bewering geweet het van die omstrede VBS-lening van die minister van Justisie, Thembi Simelane. Die president is glo in 2021, voor Simelane se aanvanklike aanstelling in die kabinet, ingelig oor die lening van meer as 500-duisend-rand. Die party het verlede week strafregtelike aanklagte ingedien teen Simelane. ActionSA se parlementêre leier, Athol Trollip, sê hulle raak al meer skepties of Ramaphosa enige ware voorneme het om die minister aanspreeklik te hou:
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur, Natjoints, sê hy hou tans Cosatu se landwye staking deur sy nasionale koördineringsentrum dop. Die vakverbond sê sy Nasionale Dag van Aksie is teen die verlammende ekonomiese krisis in Suid-Afrika wat volgens hom gekenmerk word deur werkloosheid, armoede en ongelykheid. Natjoints se voorsitter, Tebello Mosikili, sê hulle sal nie wetteloosheid duld nie:
# City Power in Johannesburg waarsku hy is op die spoor van staatsdepartemente wat altesaam meer as 216-milljoen-rand in onbetaalde elektrisiteitsrekenings skuld. Woordvoerder Isaac Mangena bevestig departemente met agterstande sal nie uitgesluit word van dié week se kragafsnydingsprogram nie, gemik op verbruikers, ondernemings en huishoudings. Ondanks voortgesette samesprekings met die departemente, beklemtoon Mangena nie-betaling sal lei tot diensafsnydings kragtens die stad se kredietbeheerbeleid om seker te maak noodsaaklike dienste word voortgesit.
# Krieket: Die Protea-vroue se aanvangskolwer, Tazmin Brits, sê hulle verwag vandag ‘n taai stryd teen Engeland in hulle tweede Groep B-wedstryd in die T20-Wêreldbekertoernooi in die Verenigde Arabiese Emirate. Suid-Afrika het Vrydag in hulle eerste wedstryd die Wes-Indiese Eilande met tien paaltjies geklop. Die geskiedenis van die tweestryd teen Engeland is in hulle teenstanders se guns, met 19 oorwinnings teenoor Suid-Afrika se vier. Brits sê hulle is skrikkerig vir Engeland se uitstekende boulaanval, maar is goed voorbereid:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-664-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-645-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….