Nuus 07:00
BULLETIN 5 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Mededingingskommissie sê voedselpryse is steeds onbekostigbaar ten spyte van dalende brandstofpryse
# Die Palestina-solidariteitsveldtog ruk op na die Parlement om optrede teen Israel te eis
# En, krieket: Die Proteas vermorsel Ierland en palm die eendagreeks in
# Die Mededingingskommissie sê voedselsekerheid in Suid-Afrika word ernstig bedreig hoewel inflasie bestendig is. In sy jongste moniteringsverslag vir noodsaaklike voedselpryse sê die kommissie hoewel sommige pryse verbeter het, betaal huishoudings steeds baie duur vir noodsaaklikhede soos mieliemeel en eiers. Kommissiewoordvoerder, Siyabulela Makunga, sê ten spyte van ’n sterker rand en laer brandstofpryse bly sleutel-voedselitems duur, wat kommer oor voedselsekerheid laat voortduur:
# Die Palestina-solidariteitsveldtog en sy vennote sal vandag na die Parlement in Kaapstad opruk om die goedkeuring van die Apartheidswetsontwerp te eis. Die verrigtinge begin op die hoek van Hanover- en Chapelstraat in Distrik Ses en het ten doel om druk uit te oefen om die Verenigde Nasies se Apartheidskonvensie in werking te stel. Usuf Chikte van die organisasie sê sedert Oktober verlede jaar het Israeliese magte meer as 41-duisend Palestyne vermoor, insluitend 16-duisend-500 kinders:
# ‘n Spesiale raadsvergadering om ʼn nuwe burgemeester vir Tshwane te verkies vind Woensdag plaas. Die stad is sonder ʼn burgemeester sedert Cilliers Brink verlede week tydens ʼn mosie van wantroue verwyder is. Politieke partye het minder as ʼn week oor om ooreen te kom oor ʼn koalisie en ʼn burgemeesterskandidaat. Hoewel ActionSA sy waarnemende burgemeester, Nasiphi Moya, steun, hou die ANC vol die kandidaat moet uit sy geledere kom en die DA druk vir Brink se herverkiesing.
# Krieket: ‘n Eerste eendag-honderdtal vir Tristan Stubbs, gesteun deur uitstaande boulwerk deur Lizaad Williams, het die Proteas gehelp om gister ‘n 174-lopie-oorwinning oor Ierland te behaal in die tweede wedstryd in die reeks in Abu Dhabi. Die sege beteken Suid-Afrika is nou twee-nul voor, met die laaste wedstryd wat Maandag gespeel word. Die Proteas het eerste gekolf en na hulle 50 beurte 343 vir 4 gehad, met Stubbs onoorwonne op 112 vanaf 81 balle. Ierland is binne 30 beurte en drie balle uitgeboul vir net 160.
# En ten slotte, Bruce Springsteen het die Demokratiese presidentskandidaat, Kamala Harris, onderskryf – die jongste glanspersoonlikheid wat die Amerikaanse visepresident ondersteun teen die Republikeinse voormalige president, Donald Trump. Die sanger, bekend vir treffers soos Born in the USA en Born to Run sê Trump is die gevaarlikste kandidaat vir ‘n presidentskap. Harris word reeds onderskryf deur ‘n paar groot Hollywood-name en bekendes, onder andere die legendariese aktrise Meryl Streep, die komediant Chris Rock en die voormalige geselsprogram-aanbieder Oprah Winfrey. Verlede maand het die popster Taylor Swift Harris ook onderskryf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….