Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die saak teen die voormalige Steinhoff-direkteur Stephanus Grobler word uitgestel vir verdere ondersoeke
# Afgetrede hoofregter Raymond Zondo wys op leemtes in arbeidswetgewing
# En, sokker: Veiligheids- en sekerheidsmaatreëls is ingestel vir die MTN8-bekereindstryd in Durban
# Die saak teen die voormalige Steinhoff-direkteur, Stephanus Grobler, is in die Handelsmisdaadhof in Pretoria tot 14 Februarie volgende jaar uitgestel. Die staat het meer tyd gevra om sy ondersoeke af te handel. Grobler, wat op borgtog van 150-duisend-rand vrygelaat is, staan tereg op aanklagte van onder meer rampokkery, bedrog ter waarde van 21-miljard-rand en die manipulering van finansiële state tussen 2014 en 2016. Sy verskyning volg nadat Steinhoff se gewese finansiële hoof, Ben la Grange, tot vyf jaar tronkstraf gevonnis is ná ‘n pleitooreenkoms met die staat.
# Afgetrede hoofregter Raymond Zondo het leemtes in die land se arbeidswetgewing uitgewys. Hy het tydens ‘n seminaar by die Universiteit Stellenbosch die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing bespreek. Die geleentheid is bygewoon deur regters, professore, en studente wat die ontwikkeling en uitdagings van arbeidswetgewing in die land bespreek het. Zondo het die belangrikheid beklemtoon om die regte van werkers teen onbillike afdanking te beskerm:
# Iran se opperleier het in ‘n seldsame toespraak sy land se missielaanval op sy aartsvyand verdedig en ‘n belofte gemaak dat sy bondgenote in die streek die stryd teen Israel sal voortsit. Ajatollah Ali Khamenei se toespraak in Teheran was die eerste sedert Iran se tweede aanval ooit op Israel, en ook die eerste sedert die konfrontasies tussen Hizbollah-vegters en Israeliese soldate in ‘n volwaardige oorlog in Libanon ontaard het. Khamenei het Hizbollah geprys en gesê die organisasie lewer ‘n noodsaaklike diens aan die hele streek en die hele Islamitiese wêreld.
# ʼn Tegniese probleem by die Duitse lugverkeerbeheeragentskap het vandag ontwrigtings veroorsaak. Sommige vlugte is afgestel op die land se besigste lughawe in Frankfurt. Die lugverkeerbeheermaatskappy sê die probleem het vlugplanne en data geraak. Dit is teen 10:30 vanoggend opgelos maar vertragings van wisselende graad het regoor die land voorgekom. Frankfurt se lughawe het op sy webblad gewaarsku vertragings met vlugte en kansellasies kan regdeur die land voorkom. Die grootste lugredery in die land, Lufthansa, sê daar was enkele kansellasies en vertragings, maar langafstand-vlugte is nie geraak nie.
# Sokker: Die polisie in KwaZulu-Natal het gepaste veiligheids- en sekerheidsmaatreëls ingestel om môre ‘n suksesvolle aanbieding van die MTN8-bekereindstryd tussen Orlando Pirates en Stellenbosch in Durban te verseker. Woordvoerder Robert Netshiunda sê 50-duisend mense sal na verwagting die Moses Mabhida-stadion volpak. Hy sê verblyf- en vermaaklikheidsgeriewe in die stad sal waarskynlik ook ‘n toestroming van besoekers en kliënte ervaar:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-400-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….