Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# KwaZulu-Natal se voormalige premier bedank uit die ANC want hy het vertroue verloor in die party se rigting
# Die Indiese regering wil hê verkragtings binne huwelike moet ligter gestraf word
# En krieket: Die Protea-vroue vermorsel die Windies in die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die voormalige premier van KwaZulu-Natal, Willies Mchunu, het uit die ANC bedank na weerstand oor sy standpunt oor die regering van nasionale eenheid. Die ANC-veteraan beskryf die weerstand as ‘n aaklige ervaring. Hy het uit sy ANC-tak bedank en voer aan hy kan geen waarde toevoeg tot die party se huidige koers nie. Mchunu is teleurgesteld in die ANC se afwyking van sy stigtingsbeginsels, maar hoop om ʼn goeie verhouding met sy voormalige kollegas te handhaaf. Hy sluit aan by die party van oudpresident Jacob Zuma, die MK-party.
# Die polisie op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng het twee Nederlandse burgers in afsonderlike voorvalle vasgetrek en beslag gelê op 80-kilogram Khat. Hulle is aangekeer toe hulle aan boord wou gaan. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê dis die 13de dwelmverwante inhegtenisnemings op die lughawe die afgelope tyd:
# Indië se regering wil hê howe moet verkragting binne die huwelik meer toegeeflik behandel as ander verkragtingsake. Die strafkode wat in die 19de eeu tydens Britse koloniale bewind ingestel is, bepaal seksuele dade deur ‘n man met sy vrou is nie verkragting nie. Die regering het in Julie ‘n hersiene kode ingestel en daardie klousule is behou, ondanks ‘n dekade-lange hofsaak om dit onwettig te laat verklaar. Indië se ministerie van Binnelandse Sake het ‘n verklaring by die hoogste hof ingedien waarin versoek word howe moet dit meer toegeeflik behandel as verkragting buite die huwelik.
# Krieket: Kaptein Laura Wolvaardt en haar aanvangsvennoot, Tazmin Brits, het die Protea-vroue gelei tot ‘n uitstekende oorwinning met tien paaltjies oor die Wes-Indiese Eilande op die T20-Wêreldbekertoernooi in die Verenigde Arabiese Emirate. Albei het onoorwonne vyftigtalle aangeteken onderweg na die gemiddelde telling van 119 en dit verby gesteek met 13 balle oor. Nonkululeko Mlaba was vroeër die beste bouler met vier paaltjies. Die Proteas speel Maandag in Sharjah teen Engeland, gevolg deur groepswedstryde teen Skotland en Bangladesj.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-442-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-646-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-19-sent per vat.
# En ten slotte: Daar was ‘n beduidende afname in vroueverteenwoordiging in die Nasionale Vergadering in die sewende administrasie. Die ondervoorsitter, Janet Love, het op die Verkiesingskommissie se dialoog oor die rol van vroue in leierskap oor die afgelope 30-jaar, kommer uitgespreek oor geslagsgelykheid. Sy het ook berigte van diskriminasie teenoor vroue in die verkiesingstydperk uitgelig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….