Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Tafelbergse sweefspoor vier vandag sy 95ste bestaansjaar en Suid-Afrikaners wat in Oktober verjaar, kry ‘n gratis retoer-kaartjie. Die maatskappy se direkteur, Selma Hercules, sê hierdie maand is daar ook ‘n spesiale herdenkingskaartjie teen 195-rand aanlyn beskikbaar. Sy sê die fondse wat ingesamel word op die gholfdag op 8 November, sal vrywillige veldbranddienste en die Wildernis-soek-en-reddingsdiens ondersteun:
# Die Suid-Afrikaanse Vlootfees begin vandag in die Simonstad se oostelike kaai in Kaapstad. Die maritieme ervaring sal oor drie dae strek. Besoekers kan met Vlootpersoneel gesels en aan boord van vaartuie gaan, insluitend ‘n Tipe 209-duikboot en ‘n fregat van die Chinese vloot. Daar word ook presisie-dril, swaardtentoontstellings deur offisiere, en see-kadetvertonings aangebied. Volgens die organiseerders is vanjaar se fees selfs groter met bedrywighede vir alle ouderdomme, ter viering van die Vloot se ryk maritieme erfenis.
# Die Suid-Afrikaanse Rolprent- en Televisietoekennings word vanjaar die 18de keer aangebied en gee erkenning aan die beste rolprente en televisieprogramme in die land. Vanjaar se tema is Terug na die Basiese, die viering van Suid-Afrika se Goue Verhale, en fokus op die viering van die grondliggende pilare van kreatiwiteit, gehalte, en uitnemendheid. SAFTA sê die tema weerspieël sy verbintenis tot die fundamentele beginsels van storievertelling en rolprentvervaardiging terwyl dit vernuwing en skeppendheid in die digitale era omarm. Die toekenningsgeleentheid word op 26 Oktober gehou.
# Johannesburg se Stadsparke en Dieretuin moedig pensioentrekkers aan om hierdie maand die dieretuin gratis te geniet. Die Verenigde Nasies sê senior burgers moet in Oktobermaand vereer en waardeer word en vanjaar se tema is Word met waardigheid oud. Die stad se woordvoerder, Virgil James, sê hierdie spesiale veldtog wil aan die metro se gewaardeerde senior burgers ‘n onvergeetlike ervaring bied en met die natuur se mees majestueuse diere in aanraking bring:
# En ten slotte: Bekendes soos Amerika se prokureur vir die Suidelike Distrik, Damian Williams, die aktrise Nicola Coughlan, die wêreld se nommer een-tennisspeler, Jannik Sinner, en Kaitlan Collins van CNN het Time Magazine se 2024 Time100 Next-lys gehaal. Die lys gee erkenning aan opkomende leiers wêreldwyd wat die toekoms vorm. Ander name op die lys is Thrive Market se uitvoerende hoof, Nick Green, die swemmer Summer McIntosh, die sangeres Sabrina Carpenter en die joernalis, prokureur, menseregte-aktivis en fluitjieblaser, Agather Atuhaire.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….