Nuus 11:00
BULLETIN 4 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die Parlement moet teen Mkhwebane optree oor haar rassistiese uitlatings
# Die Staatsdienskommissie ondersoek ‘n senior aanstelling by die Valke
# En, ‘n voormalige Israelse premier voorspel ‘n grootskaalse aanval op Iran se oliebedryf
# Die Vryheidsfront Plus sê die ongegronde kritiek en rassistiese uitlatings van die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, is skokkend onvanpas. Mkhwebane het die skuld vir haar voortgesette stryd teen vervolging op mense van Indiese afkoms gepak. Dit volg na die Appèlhof haar aansoek verwerp het om appèl aan te teken teen ‘n beslissing van die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat met haar ampsklag verband hou. Heloïse Denner van die VF Plus sê Mkhwebane se uitsprake bevraagteken nie net die integriteit van die betrokke mense nie, maar ook die parlementêre prosesse:
# Die Staatsdienskommissie sal die aanstelling van die Valke se afdelingskommissaris, Patrick Mbotho, ondersoek te midde van bewerings oor wangedrag. Dit sluit in die verspeiding van pornografiese inhoud op ‘n WhatsApp-groep van die polisie, en bande met die vermeende misdaadleier, Nafiz Modack. Die Valke se hoof, Godfrey Lebeya, hou vol alle prosedures is gevolg. Die voorsitter van die kommissie, Jan de Villiers, het ‘n beroep gedoen vir integriteit deur senior posbekleërs:
# Die ANC in Tshwane sê hy is min gepla oor die DA se dreigemente indien die afgesette burgemeester Cilliers Brink nie weer aangestel word nie. Die DA eis Brink se terugkeer, anders oorweeg hulle mosies van wantroue in ander ANC-geleide stede. Die ANC se top-sewe sal na verwagting vandag aan partyleiers in Tshwane terugvoer gee oor ‘n burgemeesterskandidaat. Die ANC het volgens berigte twee: Tshwane se sekretaris, George Matjila, en premier Panyaza Lesufi se personeelhoof, Kgoši Maepa. Matjila sê hulle weier dat die DA hulle dreig.
# Israel gaan waarskynlik ‘n grootskaalse lugaanval teen Iran se oliebedryf uitvoer, en moontlik ‘n simboliese aanval op ‘n militêre teiken wat met sy kernprogram verband hou. Dit is die mening van die voormalige Israelse eerste minister, Ehud Barak. Iran het Dinsdag byna 200 ballistiese missiele op Israel afgevuur uit weerwraak vir die dood van die Hizbollah-leier, Hassan Nasrallah. Barak sê Israel moet kragdadig optree. Die Amerikaanse president, Joe Biden, sê intussen hy is besig met gesprekke oor moontlike Israelse aanvalle op Iranse olie-aanlegte na aanleiding van Teheran se missielaanval.
# Rugby: Lusanda Dumke sal die Springbok-vroue aanvoer wanneer hulle môre op die Athlone-stadion in Kaapstad teen Australië te staan kom in die tweede ronde van die Vroue-15 se tweede seisoen. Dumke se insluiting in die opdrafspan is een van die veranderings wat Swys de Bruin en die afrigtingspan aangebring het vir die kragmeting na verlede week se oorwinning van 31-24 oor Japan. De Bruin verwag ‘n moeilike stryd teen Australië:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-508-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-660-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….