Nuus 08:00
BULLETIN 4 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mantashe verbind hom tot gereelde inligtingsessies oor mynaansoeke
# Die DA doen ‘n beroep op Lesufi om ‘n omvattende plan vir Emfuleni voor te lê
# En die Republikein Liz Cheney maak haar steun vir Harris bekend
# Die minister van Minerale Hulpbronne en Energie, Gwede Mantashe, het hom verbind om kwartaalliks terugvoer te gee oor aansoeke om te myn en te prospekteer, en verwante regte en permitte. Die agterstand in onverwerkte aansoeke vir mynverwante permitte was in Maart meer as vyf-duisend. Sowat 75-persent van die uitstaande mynpermitte was in Mpumalanga. Mantashe het gister by die Johannesburgse myn-indaba gesê kwartaallikse terugvoer oor aansoeke sal groter deursigtigheid verseker:
# Die Presidensiële Klimaatskommissie beskou billike energie-oordrag as ‘n sleutelgebeurtenis in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die kommissie se hoof van indiensneming-strategie, Devan Pillay, het tydens die Windaba 24-konferensie gesê die proses is daarop gemik om die land se ekonomiese agteruitgang om te keer deur werkers van verskeie sektore op te lei en inwerkingstelling op plaaslike vlak te verseker. Abigail Khuluse van die National Business Initiative het intussen die belangrikheid beklemtoon om vaardighede in ooreenstemming te bring met die oordrag na ‘n laekoolstof-ekonomie.
# Die DA in Gauteng eis dat premier Panyaza Lesufi en die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Jacob Mamabolo, ‘n werkbare plan voorlê om die Emfuleni-munisipaliteit se finansies te beredder. Dit ten spyte daarvan dat die munisipaliteit ʼn ooreenkoms met Eskom bereik het om uitstaande skuld van meer as agt-miljard-rand te betaal. Solly Msimanga van die DA sê inwoners moenie die gevolge dra van onopgeloste finansiële kwessies en gebrekkige dienslewering nie:
# Voormalige Republikeinse kongreslid, Liz Cheney, sê sy gaan in November vir die visepresident en Demokrate se presidentskandidaat, Kamala Harris, stem. Cheney was derde in die Republikeine se hiërargie in die Huis voordat sy uitgeskop is omdat sy vír die ampsklag teen Trump gestem het. Sy was een van twee Republikeine wat op die Huis se 6 Januarie-komitee gedien het om die oproer by die Kongresgebou te ondersoek. Cheney sê Trump is ʼn bedreiging vir demokrasie:
# Tennis: Die driemalige Grand Slam-kampioen, Stan Wawrinka, is deur na die tweede ronde van die Sjanghai Meesters. Hy het die Fransman, Giovanni Mpetshi Perricard geklop en kom nou vir die eerste keer te staan teen die 28ste gekeurde Italianer, Flavio Cobolli. Nog ʼn Italianer, Matteo Berrettini wat voorheen onder die top tien was, het die Australiër Christopher O’Connell verslaan en kom in die tweede ronde teen Holger Rune van Denemarke te staan. Die Belg David Goffin en Serwiër Miomir Kecmanović het ook geseëvier.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-947-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-662-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….