Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Energie en Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê hy oorweeg opsies oor hoe om in te gryp in Eskom se tariefverhogingsvoorstelle. Hy sê hy het nie die moontlikheid uitgesluit om voor te stel dat die Tesourie die volle instelling van koolstofbelasting uitstel nie.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf daar is steeds geen oplossing vir die dooiepunte in die regering van nasionale eenheid nie. Daar is ‘n dringende behoefte om aandag te skenk aan die kwessies oor Tshwane, Onderwys en Gesondheid.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig volgens ‘n peiling deur die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie ly sowat 84-persent van die land se onderwysers aan probleme met geestesgesondheid. Die vakbond sê daar word dringende ingryping vereis om onderwys te red.
En tweedens skryf die koerant oor die Bloemfonteinse hofverskyning van die oud-Bok Naka Drotské en sy vriend Lionel Palmer vir die beweerde aanranding op Vivian John de la Hunt.
# The Star & Pretoria News:
Skryf oor die sluipmoordpoging op die Gautengse EFF-leier, Nkululeko Dunga.
En berig die ministerie van Basiese Onderwys gaan by Tesourie aanklop vir meer geld.
# En Sowetan:
Berig oor die probleem van dwelmsmokkelary. Die koerant praat met ‘n smokkelaar wat by die kerk genader is en vir nege jaar lank in ‘n tronk in Hongkong beland het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die Vrystaatse sinode van die NG Kerk gaan nie hul bande met die algemene sinode verbreek nie en sal steeds as een streeksinode funksioneer.
En tweedens skryf die koerant ook oor Naka Drotské.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die voormalige finansiële hoof van Steinhoff, Ben la Grange is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis vir die uitreiking van ‘n vervalste faktuur van 300-miljoen-rand.
Dan skryf die koerant die Vereniging van Inwoners van die Wilgenhof-koshuis het die Hooggeregshof genader vir ‘n dringende interdik teen Universiteit Stellenbosch om nie die koshuis te sluit nie.
Voorts is daar nuus oor ‘n bejaarde egpaar wat deur ‘n rob in die see by Langebaan aangeval is.
En laastens word berig ‘n Amerikaanse bom uit die Tweede Wêreldoorlog het by ‘n lughawe in Japan ontplof.
# En Cape Times:
Skryf die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en die onderwysvakbonde het ‘n deurslaggewende ooreenkoms bereik.
En berig ook oor Wilgenhof.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die minister van Vervoer, Barbara Creecy het op besoek aan Nelson Mandelabaai aandag geskenk aan probleme by die hawens, die brandstofprys en die herlewing van die spoorstelsel.
En tweedens skryf die koerant een van die belangrikste roetes na KwaNobuhle is besig om weg te sak as gevolg die verwoestende oorstromings wat die gebied getref het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf dit sal 44-miljard-rand kos om eThekwini se waterprobleme op te los.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die oudpolisieman Morgan Brian Plaatjie is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op sy eksmeisie, Yvette Louw.
En tweedens skryf die koerant die voortgesette waterkrisis en onderbrekings in Okahandja is die gevolg van ‘n klep wat NamWater ingesit het.