Nuus 06:00
BULLETIN 4 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering dring aan op selfbeheersing te midde van die Midde-Oosterse konflik
# Minister Ramokgopa is gekant teen die Eskom-tariefverhoging
# En die Tafelberg-sweefspoor vier vandag sy 95ste bestaansjaar
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking vra selfbeheersing met dodelike gevegte tussen Israel en Hizbollah wat op die Libanon-grens voortduur. Israel het met grondaanvalle in Suid-Libanon begin nadat 15 Hizbollah-militante in ‘n lugaanval dood is. Die gevegte het tot meer as een-duisend sterftes gelei. DIRCO se woordvoerder, Chrispin Phiri, het kommer uitgespreek oor die groeiende geweld en het alle kante versoek om verdere geweld te vermy.
# Energieminister Kgosientsho Ramokgopa sê die regering is gekant teen Eskom se voorgestelde tariefverhoging van meer as 20-persent met planne om die implementering van koolstofbelasting tot na 2026 uit te stel. Eskom se meerjarige versoek sluit verhogings in van 36-persent, 11,8-persent en 9,1-persent vanaf April 2025. Ramokgopa beklemtoon die styging sal ‘n negatiewe impak hê op huishoudings en sakeondernemings. Volgens hom druk die regering vir ʼn hersiening gedurende NERSA se konsultasieproses om energie-armoede te versag sonder om Eskom se finansiële bestendigheid te ondermyn.
# Die DA doen ‘n beroep dat ‘n foutlose bemiddelingstelsel gevestig word om die stygende mediese regskrisis in die gesondheidsorgstelsel aan te pak. Daar is tans meer as nege-duisend aktiewe regsake, wat provinsies sedert 2020 tot verlede jaar 23,6-miljard-rand gekos het. Die DA-lid, Karl le Roux, glo hierdie stelsel kan besluite bespoedig en regskoste verlaag, wat sal help om druk op openbare gesondheidsorg te verlig en pasiëntesorg sal verbeter:
# Eskom en die Emfuleni-munisipaliteit het tot ‘n vergelyk gekom oor die beslaglegging van bankrekeninge om te verseker dat die munisipaliteit sy werknemers kan betaal. Die munisipaliteit skuld die kragvoorsiener agt-miljard-rand. Dis sowat tien-persent van die totale bedrag wat munisipaliteite reg oor die land verskuldig is. Eskom se Gautengse woordvoerder, Amanda Qithi, sê Emfuleni het ook in lyn met die opdrag van die Hooggeregshof in Pretoria die verspreidingsagentskapooreenkoms onderteken:
# Krieket: Die Proteas-vroue begin vandag hulle veldtog in die T20 Wêreldbeker in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate, wanneer hulle teen die Windies te staan kom. Suid-Afrika is tans vyfde op die wêreldranglys, net een plek bokant die Windies. Die Proteas speel in Groep B ook teen Bangladesj, Engeland en Skotland. Die twee boonste spanne in die twee groepe kwalifiseer vir die halfeindstryde wat op die 17de en 18de van vandeesmaand plaasvind. Die eindstryd vind op die 20ste in Dubai plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-728-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-655-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-85-sent per vat.
# En ten slotte: Die Tafelberg-sweefspoor vier vandag sy 95ste bestaansjaar. Suid-Afrikaners wat in Oktober verjaar, kry ‘n gratis retoer-kaartjie. Die maatskappy se direkteur, Selma Hercules, sê hierdie maand is daar ook ‘n spesiale herdenkingskaartjie teen 195-rand aanlyn beskikbaar. Die fondse wat ingesamel word by die Gholfdag op 8 November, sal vrywillige veldbranddienste en die wildernissoek-en-reddingsdiens ondersteun:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….