Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vervolgingsgesag verwelkom die vyf-jaar-gevangenisstraf vir Steinhoff se gewese finansiële bestuurshoof
# Zizi Kodwa se korrupsiesaak word uitgestel tot 24 Oktober
# En, motorsport: F1-aanhangers kan Sondag in Sandton deel in die aksie
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die vonnis van die voormalige finansiële bestuurshoof van Steinhoff, Andries la Grange. Die helfte van sy tronkstraf van tien jaar is opgeskort. Dit volg op ‘n pleitooreenkoms vir bedrog van 367-miljoen-rand. La Grange het erken hy het met die ineenstorting van die maatskappy finansiële state vervals. Die ooreenkoms sluit ook sy getuienis in met toekomstige Steinhoff-sake. Lumka Mahanjana van die NVG loof die vonnis as vordering om een van Suid-Afrika se grootste korporatiewe bedrogskandale af te handel:
# Die korrupsiesaak teen die voormalige minister, Zizi Kodwa, en die gewese uitvoerende hoof van die tegnologie-oplossingsgroep EOH, Jehan Mackay, is tot 24 Oktober uitgestel. Mackay het Kodwa na bewering met 1,7-mijoen-rand omgekoop vir tenders. Mackay se regspan het die Direkteur van Openbare Vervolgings genader om die aanklagte te laat vaar, en ʼn besluit word oor twee weke verwag. Kodwa se prokureur, Zola Majavu, sê hulle is gereed om voort te gaan:
# Die metaalwerkersvakbond, Numsa, eis dringende optrede teen werkgewers wat buitelanders uitbuit. Dit volg op klopjagte deur die Departement van Indiensneming en Arbeid wat verskeie gevalle van misbruik opgespoor het. Die vakbond vra sterker toepassing van arbeidswette om alle werkers te beskerm, ongeag hulle nasionaliteit. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê baie werkgewers misbruik buitelandse werkers, want hulle sal waarskynlik nie die oortredings aanmeld nie:
# AgriSA bly optimisties oor die landbousektor se vermoë om aan te pas en by te dra tot die groei van die bruto binnelandse produk, ondanks uitdagings. Die nasionale BBP het in die tweede kwartaal gegroei met 0,4-persent, maar die landbousektor het ‘n afname van 2,1-persent getoon, deels weens droogtes en dieregesondheidskwessies. Die organisasie doen ‘n beroep vir volgehoue ondersteuning van die regering sowel as die privaat sektor, verbeterings in infrastruktuur, en beter koördinering oor waterbestuur en dieregesondheid. Hy glo die sektor is goed geplaas om te herstel en volhoubare groei aan te vuur.
# Motorsport: Plaaslike Formule Een-aanhangers gaan Sondag in Johannesburg bederf word met ‘n unieke ervaring wanneer Red Bull se RB7-motor deur die strate van Sandton gaan jaag. Die voormalige Britse renjaer David Coulthard sal die legendariese motor bestuur. Die motor het 12 wedrenne gewen en in die 2011-seisoen 18 voorste wegspringposisies ingepalm toe Red Bull sy tweede gesamentlike bestuurders- en vervaardigers-kampioenskap ingepalm het. Volgens die organiseerders wag daar ‘n ongelooflike vertoning op toeskouers, wat hulle op die punte van hulle stoele gaan hou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-17-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-647-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….