Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige finansiële hoof van Steinhoff word tot vyf-jaar gevonnis vir bedrog
# Die Vryemarkstigting vra die privatisering van Suid-Afrika se sukkelende munisipaliteite
# En tennis: Carlos Alcaraz haas hom na Sjanghai kort nadat hy die Chinese Ope wen
# Die voormalige finansiële hoof van Steinhoff, Andries la Grange, is tot vyf-jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig gepleit het op aanklagte van bedrog. Dit volg ná die multinasionale onderneming in 2017 ineengestort het toe miljarde rand van die maatskappy se waarde op die Johannesburgse Aandelebeurs weggevee is. La Grange is aanvanklik aangekla van verskeie oortredings, insluitend rampokkery en korrupsie, en sou tien-jaar tronkstraf uitdien, maar het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan wat gelei het tot sy skuldigbevinding aan bedrog.
# Die adjunkminister van Water en Sanitasie, Sello Seitlholo, sê die regering kan nie toelaat dat verswakkende munisipale waterinfrastruktuur daartoe lei dat waterbronne weens besoedeling onbruikbaar raak nie. Seitlholo het die Vaalrivier-antibesoedelingsforum bekendgestel. Hy sê die regering kan nie toelaat dat agteruitgaande munisipale waterinfrastruktuur die land lam lê nie en die land kan slegs werk indien munisipaliteite werk:
Die Vryemarkstigting sê intussen privatisering is noodsaaklik om Suid-Afrika se verbrokkelende munisipaliteite reg te stel. Nicholas Woode-Smith van die stigting het die onbevoegdheid, korrupsie en vervalle infrastruktuur uitgelig waarmee plaaslike bestuur worstel, met ‘n derde van die raadslede wat nie ‘n matriekkwalifikasie het nie. Verder het slegs 34 uit 257 munisipaliteite in 2022/’23 skoon oudits ontvang. Woode-Smith voer aan privatisering van munisipale dienste kan doeltreffendheid verbeter, aangesien privaat ondernemings goed presteer, anders as staatsbeheerde instellings wat geneig is tot korrupsie en ondoeltreffendheid.
# Meer as 215 mense, insluitend 35 kinders, is dood en tientalle word vermis nadat swaar reën kitsvloede en grondstortings in Nepal veroorsaak het. Baie sterftes is in die digbevolkte hoofstad, Katmandoe, aangemeld. Unicef se woordvoerder, Florine Bos, sê toegang tot noodsaaklike hulpbronne soos vars water sal in die komende dae ‘n probleem wees. Sy sê wanneer die water gesak het, kan oordraagbare siektes soos knokkelkoors uitbreek:
# Tennis: Die uitputtende tennisprogram is beklemtoon toe die Spanjaard, Carlos Alcaraz, lughawe toe moes haas kort nadat hy in Beijing as die Chinese Ope-kampioen gekroon is. Hy sê hy kon nie eens sy oorwinning oor die wêreld se nommer een, Jannik Sinner van Italië, vier nie. Hy moes dadelik van die stadion jaag om ʼn vliegtuig te haal na Sjanghai, waar hy Saterdag sy eerste wedstryd in die Meesters-toernooi speel. Alcaraz het eers in die vroeë oggendure daar aangekom. Sinner speel ook in Sjanghai.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-576-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-647-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….