Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket is eerste aan die beurt: Suid-Afrika het Ierland met 139 lopies verpletter in die eerste van drie eendagwedstryde op die Sheikh Zayed-stadion in Abu Dhabi. Aanvangskolwer Ryan Rickelton se 91 was die hoogste telling, en hy het ‘n vennootskap van 152 lopies om die vierde paaltjie met Tristan Stubbs gedeel. Die Proteas het in hul 50 boulbeurte 271 vir nege op die telbord geplaas. Lizaad Williams het daarna vier paaltjies platgetrek en Ierland is uitgeboul vir net 132. Die tweede eendagwedstryd vind môre op dieselfde veld plaas en die laaste wedstryd is Maandag.
Nog krieket: Pakistan se witbalspan is leierloos na kaptein Babar Azam se bedanking, wat ‘n bestuurskrisis vererger wat volgens kenners die span se internasionale prestasie in al die formate erg raak. Azam het sy bedanking op sy persoonlike sosiale media aangekondig voor die Pakistanse Krieketraad 12 uur later ‘n amptelike verklaring uitgereik het. Pakistan het die afgelope twee jaar vier afrigters, drie raadsvoorsitters en vier kapteins gehad en teen die internasionale rangleer afgegly.
# Nou rugby: Die Stormers se Springbok-flank, Deon Fourie, hoop om volgende maand terug te keer na ʼn langtermyn besering. Die 38-jarige het nege maande gelede ʼn kniebesering opgedoen. Hy was verlede jaar ʼn belangrike deel van die Bokke se Wêreldbeker-veldtog in Frankryk toe hy as instaan-haker ingespan is. Fourie beplan om gereed te wees vir die Stormers se Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met die Haaie einde volgende maand, maar sê hy moet eers verseker hy is 100-persent fiks.
# Gholf kry nou ‘n beurt: Die Brit, Matt Fitzpatrick, hoop om sy Alfred Dunhill Links-kampioenskapstitel suksesvol te verdedig in ʼn poging om die DP World-toer se uitspeelwedstryde te haal. Die 30-jarige Fitzpatrick wil probeer om slegs die tweede speler naas sy landgenoot Tyrrell Hatton te word wat die titel in agtereenvolgende seisoene in Skotland kan wen. Spelers soos Jon Rahm van Spanje, die Amerikaners Brooks Koepka en Patrick Reed, en die Suid-Afrikaner Thriston Lawrence neem ook deel. Lawrence lei ʼn sterk Suid-Afrikaanse groep met onder andere George Coetzee en Branden Grace.
# Ons sluit af met sokker: Die verdedigende kampioen, Real Madrid, het hulle eerste Kampioeneliga-loesing sedert Mei verlede jaar gekry toe Lille ‘n een-nul sege ingepalm het in die Pierre-Mauroy Stadium in Frankryk. Dit is ook die eerste keer in 36 wedstryde in alle kompetisies dat Madrid verloor. Doele deur Alexis Mac Allister en Mohamed Salah het gesorg dat Liverpool die Italiaanse klub Bologna op Anfield met twee-nul klop . Die vuurwarm doelskieter Jhon Duran is as plaasvervanger opgestuur en het gesorg vir die wendoel toe Aston Villa een-nul teen Bayern Munich gewen het. Atletico Madrid het ‘n vier-nul-loesing teen Benfica op die lyf geloop.
Bly ingeskakel vir meeer nuus ………