Nuus 11:00
BULLETIN 3 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Sestig-persent van die bevolking glo die regering van nasionale eenheid werk goed
# Die Britse eerste minister waarsku die Midde-Ooste is op die rand van ‘n volskaalse oorlog
# En, krieket: Nog ellende vir Pakistan nadat kaptein Babar Azam bedank
# Sestig-persent van Suid-Afrikaners glo die regering van nasionale eenheid werk goed, terwyl 28-persent glo dit vaar sleg. Dit blyk uit ‘n peiling deur die Stigting vir Maatskaplike Navorsing, wat ook verkiesingsteun vir partye binne die koalisieregering vasgestel het. Daar is bevind steun vir veral die ANC en die DA het met tot tien-persent gestyg. Gabriel Makin van die stigting sê een van die hoofredes vir die positiewe gevoel is dat die regering van nasionale eenheid doeltreffend aandag gee aan die kommer van die middelklas.
# Cosatu het die DA se beroep gekritiseer dat die minimum loon nie verhoog moet word nie om dit teen inflasie te beskerm. Die DA sê hy erken die goeie bedoelings agter die verhoging, maar glo dit sal die land se bestaande uiters hoë werkloosheidsyfer vererger. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, beskryf dit as ‘n onbeskaamde aanval op die ses-miljoen werkers op plase en in huise, asook in die bou-, skoonmaak-, sekerheids- en gasvryheidsbedryf, en ander werkers wat op die minimum loon staatmaak:
# Die EFF in Gauteng is bekommerd oor onduidelike kwessies rondom die skrapping van die e-tolstelsel in die provinsie. Die LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, het verklaar gebruikers wat e-tolrekeninge betaal het, sal nie hul geld terugkry nie en dié wat uitstaande e-tolskuld het, is wetlik verplig om dit te betaal. Die EFF sê volgens hom was die 20-miljard-rand skuld wat die provinsie aangegaan het, nooit motoriste se verantwoordelikheid nie. Hy sê die besluit dat gebruikers uitstaande e-tolskuld moet betaal, is onredelik.
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, waarsku die Midde-Ooste is op die rand van ‘n volskaalse oorlog, wat rampspoedig sal wees. Dit volg nadat Iran Dinsdagnag byna 200 missiele afgevuur het op Israel, in weerwraak vir Vrydag se lugaanval in die Libanese hoofstad, Beiroet, waarin die Hizbollah-leier Hassan Nasrallah dood is. Starmer het deelgeneem aan ‘n telefoongesprek om Iran se aanval op Israel te veroordeel. Starmer sê die verergering van vyandighede in die streek moet voorkom word:
# Krieket: Pakistan se witbalspan is leierloos na kaptein Babar Azam se bedanking, wat ‘n bestuurskrisis vererger wat volgens kenners die span se internasionale prestasie in al die formate erg raak. Azam het sy bedanking op sy persoonlike sosiale media aangekondig voor die Pakistanse Krieketraad 12 uur later ‘n amptelike verklaring uitgereik het. Pakistan het die afgelope twee jaar vier afrigters, drie raadsvoorsitters en vier kapteins gehad en teen die internasionale rangleer afgegly.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-325-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-655-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….