Nuus 09:00
BULLETIN 3 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Maatskappye en individue skuld 277-miljard-rand aan die belastinggaarder
# Die DA in Tshwane sê hy sal hof toe gaan om die metro se bestuur te verdedig
# En ‘n spesiale verslag oor Trump se betrokkenheid by die 2020-verkiesing word onthul
# ActionSA het vasgestel twee-duisend-901 maatskappye skuld die Suid-Afrikaanse Inkomstediens 216-mijard-rand. Een-duisend-156 individue skuld 62-mijard-rand, altesaam 277-miljard-rand. Hierdie bedrag verteenwoordig bykans 90-persent van die SAID se belastinginkomste. Die SAID se begroting is ook met 1,3-miljard-rand gesny wat sy vermoë om belasting in te vorder in die wiele ry. Alan Beesley van ActionSA vra vir verhoogde befondsing om doeltreffende belastingvorderings te behaal en beter ondersteuning van regeringsdienste:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi, lei vandag ‘n vergadering met burgemeesters, LUR’e van Menslike Nedersettings en verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging. Hulle sal vordering bespreek met die instelling van die 2024/2025 menslike nedersettingsprioriteite. Die woordvoerder van die departement, Terrence Manase, sê hulle teiken deur verskeie toelaes die lewering van meer as 20-duisend behuisingseenhede, en 35-duisend gedienste erwe om indiwidue te bemagtig om hulle eie huise te bou:
# Die DA in Tshwane sê hy is bereid om hof toe te gaan om die metro se administrasie teen aanvalle te verdedig. Die kom nadat die ANC en die EFF die stadsbestuurder Johann Mettler gekritiseer het oor die aanspreek van personeel vir die manier waarop hulle die voormalige burgemeester Cilliers Brink behandel het toe hy die gebou verlede Donderdag verlaat het na sy verwydering. Kwena Moloto van die DA beweer die ANC/EFF-koalisie sal onafhanklike senior bestuurders vervang met hulle kaders:
# Oudpresident Donald Trump het misdade gepleeg in sy mislukte poging om die mag te behou nadat hy die 2020-verkiesing verloor het. Dit is bevat in ‘n verslag deur die spesiale raadgewer Jack Smith, wat getuienis insluit oor sy ondersoek na Trump se beweerde pogings om die oordrag van die presidensiële mag na die 2020 verkiesing te ondergrawe. Die dokument van 165 bladsye sluit nuwe besonderhede in oor Trump se verhouding met die voormalige visepresident Mike Pence; en bewyse van die FBI oor sy foongebruik op 6 Januarie 2021, toe oproeriges die Amerikaanse Capitol binnegestorm het.
# Sokker: Die verdedigende kampioen Real Madrid het hulle eerste Kampioeneliga-loesing sedert Mei verlede jaar gekry toe Lille ‘n een-nul sege ingepalm het in die Pierre-Mauroy Stadium in Frankryk. Dit is ook die eerste keer in 36 wedstryde in alle kompetisies dat Madrid verloor. Doele deur Alexis Mac Allister en Mohamed Salah het gesorg dat Liverpool die Italiaanse klub Bologna op Anfield met twee-nul klop . Die vuurwarm doelskieter Jhon Duran is as plaasvervanger opgestuur en het gesorg vir die wendoel toe Aston Villa met een-nul teen Bayern Munich gewen het. Atletico Madrid het ‘n vier-nul-loesing teen Benfica op die lyf geloop.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-300-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-655-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….