Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van die Verenigde Nasies word verbied om Israel binne te gaan
# Tennis: Carlos Alcaraz verslaan Jannik Sinner in ‘n opwindende eindstryd om die Chinese Ope-titel te buit
# En inflasie beïnvloed Suid-Afrika se koffie-voorkeure
# Die Sekretaris-Generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, is verbied om Israel binne te gaan weens sy reaksie op Iran se ballistiese missiel-bombardement op Israel. Israel se minister van Buitelandse Sake, Israel Katz, noem hom ’n anti-Israelse sekretaris-generaal wat terroriste ondersteun. Hy sê enigeen wat nie die aanval onvoorwaardelik veroordeel nie, kan nie die land inkom nie. Gister se aanval is die jongste in ‘n reeks aanslae wat bykans ʼn jaar gelede begin het met Hamas se aanvalle op Israel, en onlangs uitgebrei het met gevegte tussen Israel en die Irans-gesteunde Hizbollah.
Die Suid-Afrikaanse Sionistefederasie veroordeel intussen Iran se missielaanval op Israel en beskryf dit as ʼn gevaarlike toename in vyandighede. Die forum kritiseer die Suid-Afrikaanse regering vir sy swye oor die kwessie. Woordvoerder Rolene Marks versoek die regering om hierdie oorlogsdaad te veroordeel. Sy wys ook op Iran se destabiliserende rol in die Midde-Ooste en beklemtoon Israel se reg om homself te verdedig:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christenforum versoek die Konstitusionele Hof om duidelikheid te voorsien oor die wet ten opsigte van afgedankte ampsdraers se verkiesbaarheid as parlementslede. Hulle is besorg oor hoe die Wes-Kaapse Hooggeregshof die saak hanteer het van die afgedankte voormalige regterpresident, John Hlophe. Die forum se woordvoerder, Marothi Mashashane, vra duidelike riglyne om te voorkom afgedankte individue kan in die Parlement dien, en maak voorspraak vir moontlike wysigings aan verkiesbaarheid:
# Tennis: Carlos Alcaraz het die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, in ʼn briljante eindstryd verslaan om die Chinese Ope-titel in te palm. Sinner het die eerste stel in die valbylpot gewen, maar die Spanjaard het teruggeveg en die tweede stel 6-4 gewen. Die beslissende stel is ook met ʼn valbylpot beslis en Alcaraz het dit 7-3 gewen om die wedstryd in te palm. Die wêreld-nommer-drie het Sinner hierdie seisoen in al drie hulle kragmetings verslaan. Albei het reeds gekwalifiseer vir volgende maand se ATP-eindtoernooi in Turyn, Italië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-563-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-658-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-69-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Inflasie het gelei tot ‘n beduidende styging in koffiepryse in Suid-Afrika, met kitskoffie wat ‘n prysstyging van 22,3-persent aangeteken het van Augustus 2023 tot Augustus vanjaar. Kitskoffieverbruik het met 12-persent gedaal en die gebruik van gemaalde koffie en bone het met 58-persent gestyg. Volgens Eighty20 verkies die ryker marksegmente gemaalde koffie, met kitskoffie wat gewild bly in ‘n groter demografie. Koffiekapsuleverbruik het met 30-persent afgeneem weens hoë koste, met handelsmerke soos Nespresso wat verkoop word teen ‘n premium prys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….