Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika wil Britse beleggers lok vir infrastruktuur-projekte
# Suikerriet-boereverenigings vra die regering om suikerbelasting te skrap
# En, rugby: Nieu-Seeland is woedend oor Frankryk se besluit om ‘n verswakte span te stuur op volgende jaar se toer
# Die Suid-Afrikaanse infrastruktuur-sektor herstruktureer projekte om Britse beleggers te lok. ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging in Londen, onder leiding van adjunkpresident Paul Mashatile, bevorder belegging in energie, water en die spoorsektor. Die regering het regulasies gewysig om vennootskappe tussen die openbare en privaat sektor te vergemaklik met die doel om 3,2-duisend-miljard-rand se privaat sektor-belegging te lok. Verdere hervormings word verwag in die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se mini-begroting.
# SA Suikerrietboere en die Suid-Afrikaanse Boere-ontwikkelingsvereniging vra die regering om suikerbelasting op te hef en waarsku dit kan die suikerrietbedryf verwoes. Hulle voer aan as die huidige belastingmoratorium nie verleng of uitgeskakel word nie, kan tot 25-duisend boere hul lewensbestaan verloor, wat talle gesinne in armoede kan dompel. Die vereniging se woordvoerder, Nondumiso Mlondo, sê dit is noodsaaklik vir beleide om ooreen te stem met die meesterplan vir die suikerriet-waardeketting ter wille van die bedryf se herstel en bestendigheid.
# Die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging berig miljoene huishoudings ontvang tans windenergie deur Eskom. Bedryfsleiers het op die 13de jaarlikse Windaba-konferensie in Kaapstad gesê ongeveer 3,6-miljoen huishoudings vind baat by bekostigbare windenergie, met tariewe wat die afgelope dekade met meer as 100-persent verlaag is. Morongoa Ramaboa van die vereniging sê egter ondanks vordering, duur verskeie infrastruktuuruitdagings voort:
# Die DA het die Gautengse Departement van Gesondheid gekritiseer omdat hy kos by Vrystaatse ondernemings koop. Hierdie besluit is geneem te midde van ‘n gebrek aan plaaslike kontrakte, nadat die vorige kontrak verval het. Die DA sê ondernemings soos Carved Business Solutions en MP Ngophe Caterers verskaf voedsel teen hoë pryse, soos 20-rand-68 sent vir ‘n brood. Die woordvoerder, Jack Bloom, vermoed korrupsie en onbevoegdheid. Hy vra ‘n ondersoek na hierdie kontrakte en pleit vir billike, deursigtige ooreenkomste:
# Rugby: Nieu-Seelandse beamptes is glo woedend oor Frankryk se besluit om volgende jaar ‘n verswakte span na die land te stuur. Die Franse Rugbyfederasie en die land se Nasionale Rugbyliga het besluit lede van die spanne wat die eindstryd van die Top 14 haal sal nie oorweeg word nie. Nieu-Seeland glo dit sal die reeks van drie toetse afwater, asook die geleentheid om die stryd tussen twee van die vier topspanne in die wêreld te bemark. Frankryk skryf die besluit toe aan die voorbereidingsiklus vir 2027 se Wêreldbekertoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-210-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-650-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….