Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika verwelkom die nuwe vlugroetes en bykomende vlugte na verskeie van sy lughawens, veral terwyl die land in Oktober Vervoermaand vier. Air Botswana se eerste vlug tussen Gaborone en Durban vind volgende Vrydag plaas met ‘n regstreekse vlug na King Shaka Internasionale Lughawe. ACSA se woordvoerder, Ernest Mulibana, sê van een November af stel British Airways ook meer vlugte in tussen die Kaapstadste Internasionale Lughawe en Heathrow-lughawe in Londen:
# Die Smile-stigting sê hulle wil die dringende behoefte aan kranio-gesigsoperasies aanpak deur samewerking met die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad om hulp aan kinders te verskaf. Kraniosinostose vind plaas wanneer die skedelhegtings voortydig toemaak, wat lei tot ‘n abnormale kopvorm. Simptome sluit in ‘n misvormde skedel, gesig-asimmetrie en, in ernstige gevalle, verhoogde intrakraniale druk, wat braking, aanvalle en ontwikkelingsagterstande veroorsaak. Die stigting poog om die agterstand in die openbare gesondheidsorgstelsels te verminder, en help talle kinders wat deur kraniosinostose geraak word.
# Die bibliotekaris van die Universiteit van Fort Hare, Sibongiseni Mrwashu, is op die kortlys vir die gesogte toekenning vir Bibliotekaris van die Jaar van die Biblioteekinligtingsvereniging van Suid-Afrika. Die toekenning gee erkenning aan die prestasies van besielende en uitstaande openbare, akademiese, skool- en spesiale bibliotekarisse. Die universiteit sê die erkenning beklemtoon Mrwashu se toewyding en aansienlike bydraes tot biblioteekwese en inligtingswetenskap. Die geleentheid vind môre in Durban plaas.
# Die KwaZulu-Natalse Onderwysdepartement onder leiding van LUR Sipho Hlomuka en Shell Suid-Afrika het die Shell-beursprogram van stapel gestuur in aanloop tot 2024 se matriek-eindeksamen. Leerders het hulp gekry met aanlyn aansoeke. Shell SA se voorsitter, Aluwani Museisi, en Hlomuka het leerders aangemoedig om uit te blink in die eksamen sodat hulle vir beurse kan kwalifiseer. Hulle beklemtoon die program se rol om toekomstige leiers te bemagtig.
# En ten slotte: Die driemalige Oscar-wenner, Daniel Day-Lewis, het sy aftrede op die lange baan geskuif om die hoofrol te vertolk in sy seun, Ronan Day-Lewis, se eerste fliek as regisseur. Hulle het die fliek, Anemone, saam geskryf en beskryf dit as die ontginning van die ingewikkelde verhoudings tussen pa’s, seuns en broers, asook die dinamika van gesinsbande. Die rolverdeling sluit Sean Bean, Samantha Morton en Samuel Bottomley in. Dis die 67-jarige Day-Lewis se eerste optrede sedert sy verskyning in Phantom Thread in 2017.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….