Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Leinster verwag die Springbokslot RG Snyman sal binnekort weer kan speel. ‘n Voetbesering het hom verhoed om vir die klub uit te draf sedert hy van Munster geskuif het. Hy het die besering opgedoen voor Suid-Afrika se eerste Rugbykampioenskapstoets teen Australië in Brisbane in Augustus. Leinster se afrigter, Jacques Nienaber, glo Snyman kan in die beginspan ingesluit word vir die naweek se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Benetton in Treviso. Hy was sedert verlede week gemaklik tydens oefening.
Die beleërde Wallabie-afrigter, Joe Schmidt, gaan intussen waarskynlik die dienste van die veelsydige agterspeler, Jordan Petaia, verloor vir volgende jaar se reeks teen die Britse en Ierse Leeus. Hy het glo verskeie aanloklike aanbiedings van Europese klubs van die hand gewys om sy droom te verwesenlik om in die National Football League te speel. Petaia gaan vroeg volgende jaar ‘n ontwikkelingskamp in Florida bywoon. Sy kontrak met die Reds verstryk in November. Die 24-jarige het 31 toetse vir Australië gespeel sedert sy buiging tydens 2019 se Wêreldbekertoernooi in Japan.
# Krieketnuus: M-I Cape Town het die Protea-aanvangskolwer, Reeza Hendricks, vir 4,3-miljoen-rand gekoop op die SA20-spelerveiling in Kaapstad. Die span het ook die dienste van Colin Ingram, Dane Piedt en die nuweling, Tristan Luus, bekom. Die verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Cape, het Richard Gleeson van Engeland vir 2,3-miljoen-rand gekoop, asook vir Okuhle Cele en die nuweling Daniel Smith. Pretoria Capitals het die Windie Evin Lewis vir 1,5-miljoen-rand bekom, en Joburg Super Kings het die dienste van Evan Jones en Wihan Lubbe gekoop teen 175-duisend-rand elk.
Die Protea-vroue het intussen in Dubai met 28 lopies teen Indië verloor in hul laaste opwarmingswedstryd vir die T20-Wêreldbekertoernooi. Indië het in hulle 20 boulbeurte 144 vir sewe op die telbord geplaas met Richa Ghosh wat 36 bygedra het en Deepti Sharma ʼn onoorwonne 35. Ayabonga Khaka het vyf paaltjies vir Suid-Afrika platgetrek. Die Proteas kon in hulle 20 boulbeurte slegs 116 lopies aanteken. Suid-Afrika se Wêreldbeker-veldtog begin Vrydag teen die Wes-Indiese Eilande.
# Ons sluit af met tennis: Die wêreld nommer twee, Aryna Sabalenka van Belarus, het haar 15de agtereenvolgende wedstryd gewen om die kwarteindronde van die Chinese Ope te bereik. Die topgekeurde het maklik afgereken met die Amerikaner Madison Keys en kom volgende teen die Tsjeggiese speler Karolina Muchova te staan vir ʼn plek in die voorlaaste ronde. Die Amerikaanse Ope-kampioen sal ʼn belangrike stap nader beweeg om Iga Swiatek aan die bopunt van die ranglys verby te steek indien sy die toernooi inpalm. Swiatek speel nie in Beijing nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….