Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verenigde Nasies is bekommerd oor toenemende vyandelikhede in die Midde-Ooste
# Nersa beveel die goedkeuring aan van vier nuwe elektrisiteithandelslisensies
# En, krieket: ‘n Voormalige speler glo Brendon McCullum sal Engeland se witbalspanne laat herleef
# Die Verenigde Nasies se Menseregteraad is bekommerd oor die toenemende vyandelikhede in die Midde-Ooste en die moontlikheid van ‘n streekoorlog. Iran het gisteraand ‘n missielaanval op Israel uitgevoer na die dood van die Hizbollah-leier, Hassan Nasrallah. Dit het gevolg ‘n paar uur na Israel se aankondiging dat hy ‘n beperkte, plaaslike grondoperasie in Libanon van stapel gestuur het. Die VN se Menseregte-woordvoerder, Liz Throssell, sê alle partye moet ‘n duidelike onderskeid tref tussen militêre teikens en burgerlikes:
Terug in Suid-Afrika:
# Die elektrisiteitsubkomitee van die energiereguleerder, Nersa, het die goedkeuring aanbeveel van vier nuwe elektrisiteithandelslisensies en daarmee Eskom se besware van Julie verwerp. GreenCo Power Services, Discovery Green, Green Electron Market, en CBI Electric Apollo gaan nasionale handelslisensies ontvang, hangende finale goedkeuring. Eskom het aangevoer om veelvuldige lisensies in dieselfde gebied toe te staan mag die infrastruktuur ontwrig. Nersa het egter verduidelik handelslisensies het nie dieselfde beperkings as verspreidingslisensies nie.
# Die Stad Kaapstad het Vervoermaand afgeskop met ‘n paneelbespreking in die Burgersentrum oor die Moederstad se verkeersverknorsing. Die metro se omvattende geïntegreerde vervoerplan vir 2024 toon 89-persent van pendelreise in Kaapstad is per pad. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Beweeglikheid, Rob Quintas, sê dit is onvolhoubaar en onbekostigbaar vir die metro se adminstrasie en vir inwoners:
# Krieket: Die voormalige Engelse speler, Dawid Malan, glo Brendon McCullum is die regte persoon om die land se witbalspan weer op die wenpad te plaas. Die Nieu-Seelander word in Januarie die hoofafrigter van al drie formate nadat hy baie goed gevaar het met die toetsspan. Volgens Malan moet McCullum die regte balans vind tussen jeug en ervaring om die witbalspanne weer op koers te kry. Hy sê Engeland het die spelers om te herbou en weer een van die beste spanne in die korter formate te word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-650-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-650-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-96-sent per vat.
# En ten slotte: Die owerhede in Parys het begin om die spoedgrens in die Franse hoofstad se besige kringpad geleidelik te verlaag in ‘n stap wat hulle meen veiligheid en lewensgehalte sal verbeter. Die stad se Sosialistiese burgemeester, Anne Hidalgo, sê die spoedgrens langs die 35-kilometer lange Boulevard Peripherique verlaag vandag van 70- tot 50-kilometer per uur. Al die padtekens hiervoor sal na verwagting teen die 10de Oktober aangebring wees. Die roete is een van Frankryk se besigste deurpaaie wat daagliks sowat 1,2-miljoen voertuie dra.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….